'n Partytjie om die einde van die kwartaal te vier, het vandeesweek in tragedie geëindig toe twee mense dood is nadat hulle ’n gewilde dwelm gebruik het.

Nog 32 ander mense – die meeste leerders van by ’n hoërskool in Kwamashu in Kwazulu-Natal, is gehospitaliseer nadat hulle die dwelm wat op straat as “data” of “umgwinyo” bekendstaan, gebruik het.

Partytjiegangers het glo die dwelm – wat dieselfde chemiese samestelling as ecstacy het – uitgedeel en “soos ’n peuselhappie” gebruik.

Lees ook: Hoekom kinders met dwelms eksperimenteer

Die gr.11-leerder Siyabonga Mngadi is dood. Sy familie het glo op sy lewelose liggaam op ’n sypaadjie naby sy huis afgekom ’n paar uur nadat hy die partytjie verlaat het.

Maj. Thulani Zwane, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig twee geregtelike ondersoeke – een vir ’n 19-jarige man en nog een vir ’n man van 29 wat oorlede is – is by die Kwamashu-polisiekantoor geopen. Hy het gesê die tiener het Saterdag in KwaMashu se K-Section “met sy vriende gekuier” toe hy “ineengestort en gesterf het”.

Die 29-jarige man is later daardie dag dood by sy huis in Kwamashu se E-Section aangetref. Thulani sê die omstandighede rondom die voorval word nog ondersoek.

Lees ook: Dwelm-waarskuwing: Tik word as lekkers aan leerders verkoop

Volgens ’n staatsdokter wat anoniem wou bly, is minstens 50 gevalle van mense wat die dwelm – bekend as “Mercedes” – gebruik het drie weke gelede na ’n plaaslike hospitaal verwys.

“Al die pasiënte was uiters gewelddadig en moes beheer word. Een kind is in intensiewe sorg in ’n privaathospitaal. Hy het die dwelm by ’n luukse nagklub gebruik. Dit word duidelik in verskeie gebiede versprei.”

Die provinsiale regering in Kwazulu-Natal het intussen ’n beroep gedoen op ouers om hul kinders fyn dop te hou. Maatskaplike werkers besoek tans die gesinne van diegene wat by die voorval betrokke was.

– Latashia Naidoo

Bronne: iol.co.za; timeslive.co.za, sowentanlive.co.za

Ook op Huisgenoot.com

Iemand kan jou drankie dokter – dis makliker as wat jy dink

Nuwe dwelm laat gebruikers hul klere uittrek, rondhol

Ouers vas omdat hulle kinders met dwelms paai om take te doen

Dobbelaars ervaar minder genot