Twee seuns wat die afgelope week in ’n video te sien is waar die een die ander met ’n baksteen gooi, is tydelik van hul skool geskors.

Huisgenoot het vroeër berig die Wes-Kaapse onderwysdepartement ondersoek die voorval waarin ’n leerling Dinsdagoggend tydens ’n beweerde afknouery met ’n baksteen deur ’n ander leerling by die Hoërskool Stellenberg gegooi is.

In ’n selfoonvideo van die voorval kan ’n mens sien hoe ’n seun ’n baksteen vashou terwyl hy na ’n ander seun loop voor hy hom daarmee gooi. Dit tref die seun se kop.

“Ons duld glad nie afknouery of geweld in ons skole nie en ons sal nie skroom om stappe te doen wanneer ons van sulke voorvalle hoor nie,” het Jessica verder gesê.

Verskillende soorte afknouery

Afknouery is nie noodwendig geweldadig nie. Dit kan ook enigiemand raak, ongeag ras, ouderdom of grootte. Boonop kan dit ook subtiel wees, soos om heeltyd oor iemand te fluister of gerugte te versprei, iemand uitsluit uit ’n groep of om gemene goed aanlyn te publiseer.

Hoe raak afknouery jou?

Nie net sal kinders wat afgeknou word, nié van skool hou nie, hulle kan ook liggaamlike probleme ontwikkel. Party slagoffers kry hoofpyn, raak depressief, of dink aan selfdood.

Afknouery laat mense bang, minderwaardig en waardeloos voel, sê Kinderlyn SA. Die gevoelens kan later tot probleme met selfbeeld lei.

Hoe gemaak met boelies?

  • Praat met iemand wat jy vertrou en wat vir jou kan raad gee – ’n onderwyser of ’n vriend. Vra vir hulp as jy sien jy kan nie die situasie self oplos nie.
  • Moenie stilbly nie. Sê vir ’n boelie hy of sy moet jou uitlos. Die boelie verwag dat jy nié vir jouself gaan opkom nie. Moet ook nie terugskree of kwaad word as ’n boelie met jou lelik is nie, dit is presies wat die boelie wil hê.
  • As hy of sy jou iets toesnou, stap weg of lyk verveeld, al is dit moeilik.
  • Fokus op positiewe self-gesprekke. Sê vir jouself positiewe goed oor jouself: “Ek is nie wat hulle sê ek is nie. Ek is beter as dit.”
  • As jy sien iemand anders word geboelie, moenie daaroor lag, hande klap of dit ignoreer nie. Praat daaroor. Sê vir die boelie om die slagoffer uit te los.
  • As jy hulp nodig het, bel Bullyproof South Africa by 011 615 3090 of stuur ’n e-pos na info@bullyproof.co.za.
  • As jy met ’n kinderlyn-berader wil praat, bel 031 201 2059.