Dit is die eerste hofgeding in die land deur familielede van mense op die vliegtuig wat agt maande gelede geheimsinnig verdwyn het.

Jee Kinson (13) and Jee Kinland (11) beskuldig die department van burgerlugvaart van nalatigheid omdat hulle nie die vliegtuig binne ’n redelike tyd ná sy verdwyning probeer kontak het nie. Dit was op 8 Maart onderweg van Kuala Lumpur na Beijing met 239 mense aan boord. In die saak, wat by die hooggeregshof in Kuala Lumpur aanhangig gemaak is, word beweer die lugredery was nalatig en het versuim om die gepaste maatreëls te tref om ’n veilige vlug te verseker. Die ander verweerders wat na bewering nalatig was en hul pligte versuim het, is die direkteurs-generaal van burgerlugvaart en immigrasie, die land se lugvaarthoof en die regering.
'’n Groot vliegtuig wat in dié era van tegnologie vermis raak, is regtig onaanvaarbaar.'

“Ons het agt maande gewag. Nadat ons met verskeie kenners gepraat het, glo ons ons het genoeg bewyse vir ’n sterk saak. ’n Groot vliegtuig wat in dié era van tegnologie vermis raak, is regtig onaanvaarbaar,” het hul prokureur, Arunan Selvaraj, gesê.

Die seuns eis skadevergoeding vir geestelike nood, emosionele pyn en die verlies aan ondersteuning ná die verdwyning van hul pa, Jee Jing Hang.

Hy het ’n aanlyn onderneming bedryf en het maandeliks sowat R57 200 verdien.

Arunan het gesê die hof sal die skadevergoedingsbedrag bepaal.

Byna twee derdes van die passasiers op vlug MH370 was van China.

Steve Wang, ’n Chinese man wie se ma op die vliegtuig was, het gesê baie Chinese families het regsverteenwoordiging gekry, maar hy dink nie enigeen het al ’n hofsaak begin nie.

“Ons ondersoek die wette om te bepaal hoe ons ons sake ten beste kan voorlê – byvoorbeeld of ons die sake in Maleisië aanhangig moet maak. Maar ons weet nie waar die vliegtuig is nie, bewyse ontbreek en die moontlikheid bestaan steeds dat dinge kan verander,” het Steve gesê. “Nou blyk dit baie moeilik te wees om ’n saak teen die Maleisiese regering en weermag aanhangig te maak.”

Die lugvaartprokureur Jeremy Joseph sê die seuns het beslis gronde vir ’n saak sodat die owerhede in die hof aanspreeklik gehou word, maar dit sal nie maklik wees nie.

“Dit sal ’n uitdaging wees omdat die vliegtuig nog nie opgespoor is nie. Sonder dat die oorsaak van die ongeluk bepaal is, is alles spekulatief,” het hy gesê.

Jeremy het gesê Maleisiese siviele howe sal waarskynlik nie groot bedrae skadevergoeding toestaan nie. In die geval van die lugredery sal die hof waarskynlik R1,9 miljoen ingevolge die Montreal-verdrag toestaan. Oor die ander verweerders het hy gesê dit is ’n ongekende geval en sal afhang van die getuienis in die hof en skuld van die partye.

Die vliegtuig het glo in ’n afgeleë deel van die Indiese Oseaan neergestort. Die Australiese koördineerders van die soektog het gesê die huidige fase kan tot ’n jaar duur en daar is geen waarborg van sukses nie. Geen wrakstukke is al opgespoor nie.

– AP/Didi Tang