Hulle is Saterdagaand buite ’n nagklub naby die bekende Champs Elysees in hegtenis geneem en het daarna glo 40 uur in die selle deurgebring. Ali Williams (35) het volgens berigte erken dat hy kokaïen gekoop het. Hy sal op ’n latere datum in die hof verskyn.

James O’Connor (26) gaan na bewering van besit aangekla word. Daar is glo kokaïen van 2,4 g in hul besit gevind.

Dit wil voorkom asof Ali die aankope by twee vermeende dwelmhandelaars gedoen het terwyl James brandwag gespeel het. Die vermeende handelaars is ook in hegtenis geneem. Berigte dui daarop dat James en Ali in alle waarskynlikheid ook onder die invloed van drank kon wees. Daar word intussen beweer dat James positief getoets het vir kokaïen, maar omdat hy nie die dwelm aangekoop het nie sou hy glo ’n boete (bedrag tot dusver onbekend) opgelê word vir die “bedoeling om te gebruik”. Volgens ’n verklaring uitgereik deur Racing 92 is Ali voorlopig uit die span geskors. Daarin word ook aangedui dat sou die besit van kokaïen asook die aankoop daarvan bewys kan word, dit nie net teen die wet is nie maar ook as ’n ernstige verbreking van die rugbyklub se reëls beskou sal word.

Sou Ali skuldig bevind word, is daar ook die moontlikheid dat die Franse regering sy werkvisum mag kanselleer. Ali se kwasterigheid op die veld het hom in 2005 ses weke lank van die veld gehou nadat hy Richie McCaw tydens ’n wedstryd tussen die Blues en die Crusaders getrap het. Toulon het in hierdie stadium nog nie amptelik kommentaar op James se inhegtenisname gelewer nie, maar wel aangedui dat hulle bewus is van die arrestasie. Mourad Boudjellal, die president van die klub, sal met James vergader alvorens enige verdere besluite geneem sal word.

Dis ongelukkig nie die eerste keer dat James in die sop beland nie. Sy herhaalde swak dissipline van die veld af het in 2013 daartoe gelei dat die Australiese Rugby-unie net mooi genoeg van hom gehad het. Dit het hom in Oktober 2013 sy kontrak met die Wallabies gekos.

 

Sy loopbaan as ’n moeilikheidmaker dreig om sy skitterende vertonings op die internasionale rugbyveld geheel en al te oorskadu.

1. In November 2010 het hy, Quade Cooper en Kurtley Beale mekaar glo in Parys getakel.

2. In Augustus 2011 “verslaap” hy en mis die amptelike Wallaby-spanfoto. Maar die tonge het geklap dat hy hopeloos te veel gedrink het en deur sy babelas gepootjie is. Hy is ’n boete opgelê en moes een wedstryd misloop.

3. James en Kurtley Beale is in die vroeë oggendure rondom 04:00 by ’n kitskosrestaurant afgeneem. Dit sou nie normaalweg ’n probleem wees nie, maar dit was tydens die Leeus se tweede toets teen die Wallabies.

4. 2013 was alles behalwe ’n suksesvolle jaar vir die eens-belowende ster. In September van daardie jaar word hy verhoed om aan boord van sy vlug vanuit Perth te gaan vanweë sy gedrag, vermoedelik aangevuur deur sy beweerde dronkenskap.

Bronne: bbc.com, dailytelegraph.com.au, foxsports.com.au