Twee bejaardes van Riebeeckstad naby Welkom is ernstig aangerand in dieselfde huis waar ’n vrou in Oktober verlede jaar vermoor is.

Ben Rautenbach (66) en Hannes van Eeden (63) moes Donderdagoggend verwoed om hul lewe veg toe twee mans met ’n piksteel hulle aangeval het.

Die voorval het in dieselfde huis in Florastraat plaasgevind waar Sophie Gehring (72) in Oktober 2015 vermoor is. Vier mans, waaronder een van Lesotho, is in Oktober 2015 in Riebeeckstad deur die polisie in hegtenis geneem vir die moord. Ben is baie bekend in Welkom, waar hy bome in die omgewing afsaag en verwyder. Kapt. Stephen Thakeng, Welkom-polisiewoordvoerder, sê Hannes was Donderdagoggend net ná sesuur buite in die tuin toe die twee mans oor die muur spring en hom met ’n piksteel aanval. Hulle het hom in die huis in gedwing en daar ook vir Ben aangerand. Ben het ’n vuurwapen in sy slaapkamer in die hande gekry en ’n paar skote afgevuur, waarna die twee booswigte gevlug het.

Ben en Hannes se bure het hulle te hulp gesnel en die nooddienste ontbied.

Hannes is in die Bongani-streekhospitaal in Welkom opgeneem vir sy beserings. Ben is weens die erns van sy beserings na die trauma-eenheid van die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas.

Hy het skedelbreuk opgedoen en het bloeding op die brein.

Volgens Radio Rosestad het die polisiewoordvoerder, kaptein Stephen Thakeng, gesê die tuinier is reeds in hegtenis geneem. Daar word egter nog na sy makker, 'n onwettige immigrant van Lesotho, gesoek. en daar word nog gesoek na sy makker, ’n onwettige immigrant van Lesotho.

Bronne: Netwerk24.com, 100punt6.co.za, iol.co.za