Amor Vittone se herstel gaan lank neem, sê die sangeres se ma, Delyse Vittone.

[caption id="attachment_154957" align="alignnone" width="601"]Die sangeres sal lank met krukke oor die weg moet kom. Foto: Dino Codevilla Die sangeres sal lank met krukke oor die weg moet kom. Foto: Dino Codevilla[/caption]

Amor het Woensdagaand ’n tweede operasie ondergaan om die spiere en ligamente in haar voet te heg. Amor is Maandag hospitaal toe geneem ná ’n fratsongeluk op ’n springmat op haar seun, Jordan (13), se verjaardagpartytjie.

Die voorval het gebeur by Bounce, ’n sentrum met springmatte waar waaghalsige spronge en toertjies uitgevoer kan word.

Delyse sê Amor is baie verlig dat sy gebruik van die voet sal herwin. "Die been het deur die vel en vleis gesteek, maar X-strale het getoon dit was ’n oop breuk.”

Maar Delyse sê Amor sal lank met krukke oor die weg moet kom. Sy sal ook ’n voetstut moet dra.

Sy sal ook nog lank fisioterapie moet ondergaan. Delyse sê Amor is baie beïndruk met die behandeling in die Morningside-kliniek. “Almal daar is wonderlik. Amor sê sy het nog nooit sulke behandeling ontvang nie.”

Delyse sê die hospitaalpersoneel het gistermiddag voor die operasie en weer in die teater vir Amor gebid.

Die sangeres het dokters gevra om haar Vrydagmiddag te ontslaan omdat Jordan Saterdag verjaar.