Hoof-superintendent Wayne Minnaar sê ’n geval van afpersing is by die Jeppe-polisiestasie geopen. Wayne sê die saak sal aan die senior aanklaer oorhandig word vir vervolging.

Die Johannesburgse Metropolisiedepartement (JMPD) doen ’n beroep op die mens wat die beeldmateriaal opgeneem het om die JMPD by 011-490-1797 te bel of hul kantoor vir interne sake op die hoek van Village-weg en Loveday-straat tydens kantoorure te besoek om ’n verklaring af te lê wat die saak sal help vasmaak.

Op die video kan gesien word hoe twee mans hul sakke leegmaak om geld aan die beamptes te oorhandig. Die video, wat met ’n selfoon geneem is, is na die JMPD gestuur.

Michael Sun, Johannesburgse metroraadslid vir sekuriteit, sê JMPD se interne sake werk hard aan die saak.

“Die twee beamptes betrokke is Sondagoggend in hegtenis geneem,” sê Michael.

Hy sê hulle sal Maandag in die landdroshof in Johannesburg verskyn.

“Die twee beamptes word ook in die gesig gestaar deur interne dissiplinêre prosesse en sal afgedank word as hulle skuldig bevind word,” sê Michael.

Bron: News24