Die twee mans wat daarvan aangekla is dat hulle die gegradueerde Matie Carl Schoombie (27) in 2015 doodgeskop het, is Vrydag aan sy moord skuldig bevind.

Regter Robert Henney het in die hooggeregshof in Kaapstad gesê dit is duidelik dat Brent Henry en Juane Jacobs opgetree het met die gemeenskaplike doel om Schoombie op ’n “brutale en genadelose” manier aan te rand.

Hy het bygevoeg dat die getuienis teen die twee oorweldigend is.

Die twee kon nie antwoorde gee oor hoe Schoombie in hul teenwoordigheid “pap geslaan op die sypaadjie gelaat is” nie. Daar was ’n direkte voorneme om hom te vermoor, het die regter gesê. “Dit blyk dat die hoofdoel van die beskuldigdes was om hom aanhoudend teen die kop te skop en nêrens anders op sy lyf nie.”

Die patoloog wat Schoombie se lyk ondersoek het, het gesê Schoombie het die soort breinbesering opgedoen wat gewoonlik net ná ’n motorongeluk gesien word.

Schoombie se broer, Lee, het deurentyd vir geregtigheid baklei en was sigbaar verlig toe die hof die uitspraak lewer.

Henry se borgtog van R1 000 is opgeskort en hy sal by Jacobs in die Pollsmoor-gevangenis aansluit. Hy het sy trouring en juweliersware afgehaal en saam met sy sonbril en beursie vir sy regspan gegee.

Die twee mans het beweer Schoombie het in die nagklub Tiger Tiger in Claremont, Kaapstad met hulle skoorgesoek.

Schoombie en drie vriende was vroegoggend in ’n Uber-taxi op pad huis toe toe Henry en Jacobs hulle glo agtervolg en naderhand met hul Audi in ’n doodloopstraat vaskeer.

’n Vriendin wat saam met Schoombie in die Uber-taxi was, het getuig hulle het aan Henry en Jacobs gesê hulle het die verkeerde mense beet, maar dit was tevergeefs. Henry en Jacobs was glo vasbeslote dat Carl die man is wat vroeër die aand in die nagklub met hulle vasgesit het.

Schoombie is in ’n koma in die hospitaal opgeneem en het ’n paar dae later gesterf.

Henry en Jacobs word op 18 April gevonnis.