Die ander een, wat van Frankryk kom, was telefonies in aanraking met sy gesin nadat hy aan wal gebring is.

Die twee mans was in ’n 16 m-tweerompjag toe hulle tussen Durban en Kaapstad deur ’n walvis getref is. Die ongelukkige voorval het tot ’n twee dae lange soek-en-reddingspoging deur die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) gelei.

Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, het aan News24 gesê die twee mans, Jean Sitruk (65) van Lyon, Frankryk, en Kyle Castelyn (30) van die Strand , is Sondag om 18:25 deur die vragdraer CMA CGM Rossini gevind.

Volgens die mans het hulle aan die Transkeise kus harde slae gehoor en gevoel die jag swaai een kant toe. Toe hulle kyk wat dit veroorsaak, het hulle ’n walvis langs die jag sien swem.

Die jag het onmiddellik begin water inneem. Hulle het ’n radionoodsein uitgestuur, maar moes Saterdag die jag verlaat. Dit het enkele minute daarna omgeslaan.

Volgens die mans het hulle hul radiobaken geaktiveer, in die rowwe see geroei en vasgeklou om lewe en dood.

Hulle het deur die nag gemerk skepe in die verte gebruik hul kolligte, maar hulle was te ver van die mans om hulle raak te sien. Dit het hulle egter gerusgestel dat hulle heel waarskynlik gesoek word.

Hulle het toe ’n rooi noodfakkel afgevuur, maar dit is nie raakgesien nie. Hul opblaasboot het Sondagoggend omgeslaan en hulle was die meeste van hul voorraad kwyt. Kort daarna was hulle verplig om te roei en die aanslag van die golwe te trotseer.

Volgens Craig het die CMA CGM Rossini hulle tydens ’n volgehoue uitgebreide soektog by Kidds Beach naby Oos-Londen opgemerk.

Craig het vertel die manne het gesê hulle het vyfsterbehandeling van die skip se bemanning gekry en dat hulle tydens die vaart na Kaapstad selfs nuwe skoene ontvang het.

Bron: News24