’n Agtjarige seun en driejarige dogtertjie het kort voor middernag Saterdagaand gesterf toe twee voertuie teen mekaar gebots het.

Nooddienste het ook ’n baba van ongeveer ses maande oud, in haar karstoeltjie in die bosse gevind. Sy het matige beserings opgedoen.

Ineke van Huyssteen, ER24-woordvoerder, sê paramedici het alles in hul vermoë gedoen om die kinders se lewe te red, maar ten spyte daarvan is altwee op die toneel dood verklaar.

Die voertuig het op sy sy gelê. ’n Vrou is enkele meter van die motor gevind en sy verkeer tans in ’n ernstige toestand in die hospitaal.

’n Man het op die toneel rondgeloop. Hy het geringe beserings in die ongeluk opgedoen.

Die tweede voertuig is in ’n sloot gevind. Die bestuurder van daardie voertuig het geen beserings opgedoen nie.

Plaaslike owerhede stel ondersoek na die oorsaak van die ongeluk in.