Twee kinders het Sondagmiddag by die kwartiere van die Dunnotar militêre basis buite Nigel aan die Oos-Rand doodgebrand.

Die voorval het omstreeks 16:40 plaasgevind toe die ma van ’n ses maande oue babameisie en die pa van ’n 12 maande oue seun die kinders by ’n verwarmer laat slaap het, het kapt. Johannes Ramphora van die Gautengse polisie aan News24 gesê.

“Die verwarmer het glo ontplof en die beddens aan die brand gesteek,” sê Ramphora.

Die pa, wat probeer het om die kinders te red, is na die hospitaal gehaas nadat hy ook brandwonde opgedoen het.

’n Geregtelike doodsondersoek na die saak is geopen.

Bron: News24