PRETORIA -

Regter Mahomed Ismail het gesê Sarel du Toit se optrede was “boos” en die verkragting “’n daad van wreedheid”.

Hy het ’n vertroude, onskuldige kind aan ernstige pyn onderwerp, het Mahomed in die hooggeregshof in Pretoria gesê. Sy dade het die regter ten diepste geskok. Francois du Plessis, Sarel se verdedigingsadvokaat, het Dinsdag gevra vir ’n vonnis van 30 tot 35 jaar. Hy het aangevoer Sarel het skuld erken en die briewe wat hy kort ná die voorval aan sy ma en suster geskryf het om te vra hulle moet hom vergewe, wys hy het waarlik berou. Jasmin en haar ouer suster het die naweek by hul pa, Morné Pretorius, gekuier toe sy in Desember 2013 vermoor word. Die gemeenskap het ’n hele dag na haar gesoek voor haar lyk onder Sarel se bed gekry is.

Sarel en sy broer het by hul ma gewoon, wat daardie aand saam met Jasmin se suster in die woonstel was. Jasmin se pa was nie tuis nie, want hy was by sy meisie.

Dr. Forunato Beccia, die distriksgeneesheer wat ’n lykskouing op Jasmin uitgevoer het, het Dinsdag getuig die meisie het kwaai pyn verduur en geworstel voor sy dood is.

Sy het getuig daar was kneusplekke aan Jasmin se gesig en in haar mond en daar was ook bloed in haar neus, en dit alles dui op harde houe.

Die veelvuldige krapmerke en kneusplekke aan haar nek is deur die vingers van die aanvaller se regterhand veroorsaak.

Bron: News24