Twee jong mans, vermoedelik studente aan die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK), word steeds vermis nadat hulle Saterdagmiddag in rowwe seetoestande verdwyn het.

Die mans is deel van ’n kerkgroep wat naby die Strand in die Wes-Kaap gaan swem het.

Alan Meiklejohn, bevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Gordonsbaai, sê in ’n verklaring hulle het die twee mans asook twee meisies te hulp gesnel nadat lewensredders hulle van die situasie in kennis gestel het.

Die groep het gaan swem in ’n gebied waar swem verbied word en wat ook ver buite die toesig van die lewensredders is.

Volgens Alan is hul hulp om 15:00 ingeroep ná berigte van ’n “massa-verdrinkingsvoorval” by ’n gebied genaamd Pipe ontvang is.

Toe hulle daar aankom is een van die meisie reeds deur lede van die kerkgroep uit die water gehelp. Die lewensredders het die ander meisie gered. Die een is ’n tiener en die ander in haar laat 20’s.

Die soektog na die twee mans, onderskeidelik 19 en 20 jaar oud, is volgehou totdat uitermatige rowwe seetoestande die lewensredders gedwing het om hul soektog af te las. Alan sê branders van tot 3 meter hoog en ’n wind van meer as 45 knope, was van die belemmerende toestande wat die soektog bemoeilik het.

Die soektog is wel later hervat met die hulp van 'n helikopter asook lede van die polisie se duikeenheid.

Tog is daar tot dusver steeds geen teken van die vermiste mans nie.