Jonathan Heyns en Lee Swarts, die beskuldigdes, het in verband met die moord op Kaithlyn verskyn. Daar is nog geen klagtes op die klagstaat gevoeg nie.

Kaithlyn van Riebeek-Wes in die Swartland, Wes-Kaap, het Sondag haar pienk sweetpakbroekie en haar Barbie Girl-langmou-T-hempie aangehad en haar hare in ’n bollatjie op haar kop.

Die kind het toe verdwyn.

Die lyk van die tenger meisie is Sondag gevind slegs ure nadat haar ouma haar as vermis aangemeld het.

Een van die verdagtes, Jonathan, is Kaithlyn se ma, Yvonne Wilson (24), se gewese kêrel.

Grusame besonderhede oor die peuter se laaste ure het aan die lig gekom.

Kaithlyn se ouma het aan die Daily Voice verklap dat die kind gevind is met haar oë en neus toegeplak met kleefband en ’n lap in haar mond gestop.

Die twee verdagtes is Sondagaand in hegtenis geneem, het Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, bevestig.

Een van die verdagtes het in die hof ’n glimlag op sy gesig gehad – veral toe hy na Kaithlyn se ma, Yvonne, gekyk het. Albei verdagtes het aangedui hulle wil aansoek doen om borgtog.

Landdros Sonja Naick het die saak tot 8 Augustus uitgestel om die verdagtes tyd te gee om regsverteenwoordiging aan te skaf.

Die gemeenskap het ná die hofverrigtinge buite die hof betoog.

Bykomende bron: Daily Voice