Twee mense is Saterdagoggend dood toe ’n Opel Corsa met ’n vragmotor gebots het.

Die ongeluk het ongeveer halfses op die N12, vier kilometer buite Potchefstroom, gebeur.

ER24 vermoed die ongeluk het plaasgevind toe die vragmotor die snelweg probeer oorsteek het om by ’n vulstasie uit te kom.

Die twee insittendes van die Opel Corsa, ’n man en vrou, is deur paramedici op die toneel dood verklaar. Die plaaslike brandweer moes die kake van die lewe inspan om die oorledenes uit die voertuig te bevry.

Plaaslike owerhede ondersoek steeds die presiese oorsaak van die ongeluk.