Die dodetal in die skietery vroeër vanoggend by die Clearwater-winkelsentrum in Roodepoort het tot twee gestyg, berig Netwerk24.

Twiets deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens bevestig dat twee van die vermeende rowers doodgeskiet is. Nog twee is gewond en twee ander is in hegtenis geneem.

"Ek het gedog klappers gaan af," het die bemarkingsbestuurder van die sentrum, Cecile Braun, vir News24 gesê.

Verskeie mense het vanoggend oor die voorval getwiet. Die rowers wou na bewering wagte van die veiligheidsmaatskappy G4S beroof. Selfone en skootrekenaars is ook gegryp.

Die ses rowers wou hul vinnig uit die voete maak, maar is in die parkeerterein vasgetrek toe hulle wou wegjaag.

"Ons kan bevestig dat skote in ons parkeerterrein afgevuur is. Dit was dadelik onder beheer gebring. Dit het letterlik 'n paar sekondes geduur," het Cecile gesê. Die polisie kon al die buit terugkry, maar het nog nie amptelik kommentaar oor die voorval uitgereik nie. Lees meer hier en hier. WAARSKUWING: GRAFIESE FOTO'S