Dit was die skokkende bevinding van ’n ondersoek deur iFix, ’n maatskappy wat slimfone herstel.

Meer as 1 500 mense is by die ondersoek betrek waarin gevind is ’n allemintige 68 persent van respondente kyk meer na hul slimfoon as na hul lewensmaat.

Die mikpunt van die studie was om te kyk na Suid-Afrikaners se verhouding met hul slimfoon deur onder meer uit te pluis hoeveel aan FOBO (Fear of Being Offline) of PSA (Phone Seperation Anxiety) ly.

Die uitslag was onomwonde: Suid-Afrikaners steun baie op hul foon. Altesaam 74 persent van die deelnemers het gesê hulle kan nie hul huis verlaat sonder hul foon nie. Boonop het 71 persent erken hulle verkies om nuus oor hul privaat lewe deur hul foon op sosiale media te deel eerder as om direk met ’n ander mens te praat.

Altesaam 77 persent het ook gesê hulle sal na hul foon kyk sonder ’n werklike rede. Meer as die helfte van die deelnemers het erken hul foon is die eerste ding waarna hulle soggens kyk as hulle wakker word.

Interessant genoeg meen dieselfde hoeveelheid hulle raak geïrriteerd as iemand anders hul foon gebruik.

Waar pas jy in?

Bron: iFix-persverklaring