Derick Hougaard en Karlien van Jaarsveld het pas op die sosiale netwerk Twitter bekendgemaak Karlien verwag twee seuns.

Derick het die nuus opgewonde met ’n twiet verklap: “Twee bulletjies! My prinsessie is nog in Jesus se hande. :)”

“Karlien en Derick was al twee vas oortuig die tweeling gaan ’n seun en ’n dogter wees, maar ons het vandag bevestiging gekry dat dit twee seuns is,” sê Ronel Brink, Karlien se ma.

Volgens haar het Derick ’n halfuur lank aan skok gely, maar hulle is baie dankbaar vir die seuns en dink hulle gaan sommer heerlik speel met hul twee nefies, Sion (21 maande) en Leben (8 maande). Hul pa is Karlien se broer, Bobby.

“Karlien het klaar seuntjie- en dogtertjieklere gekoop, maar die dogtertjieklere sal nou maar ’n bietjie moet wag vir later. Dis in God se hande,” sê Ronel.

Derick en Karlien het nog nie aan name gedink nie; dis iets waaroor hulle wil bid. Hulle glo God sal hulle die regte name gee wanneer die tyd aanbreek.

- Suzanne Venter

Besoek ook:

Derick en Karlien se groot nuus

Foto's van Derick en Karlien