Twee broers wat mede-eienaars van die Blou Bul-slaghuis in Pretoria se middestad was, is Maandagoggend in hul winkel vermoor.

Joan en Joas de Abreu is albei in hul winkel in Paul Krugerstraat dood verklaar.

Kapt. Augustinah Selepe, polisiewoordvoerder, sê in ’n verklaring vyf mans het omstreeks 06:05 die slaghuis binnegegaan en gemaak of hulle iets wou koop.

Volgens kringtelevisiemateriaal het een van die mans, geklee in ’n swart broek met ’n swart baadjie en ’n swart hoed, buite waggehou terwyl sy makkers binne besig was.

Die aanvallers in die winkel het wapens op die De Abreu-broers gerig en hulle doodgeskiet.

“ ’n Bruin boks met ’n onbekende hoeveelheid geld is geroof,” sê Selepe.

Volgens kringtelevisiemateriaal het die mans toe in twee Mercedes Benz-voertuie weggekom. Die een is silwergroen en die ander een wit.

Selepe vra dat enige iemand met inligting oor die rooftog en die moorde, die polisie sal kontak. Mense kan 10111 of 08600 10111 bel of ’n SMS stuur na 32211.