’n Trokdrywer in Durban was die afgelope naweek na bewering in ‘n ongeluk betrokke waartydens hy die bestuurder van ’n insleepwa doodgery het. Daarna het hy ‘n ambulans gegaps en ‘n tweede ongeluk veroorsaak.

Hierdie bisarre reeks gebeure het Saterdagaand op die M7-hoofweg naby die Inkosi Albert Ntuli-hospitaal in Durban gebeur, berig The Mercury.

Die woordvoerder van Rescue Care ambulansdienste, Garrith Jamieson, vertel nooddienste het net weggery van ‘n aparte ongelukstoneel waarin niemand beseer was nie, toe hulle hoor daar was ’n volgende ongeluk.

Dis tydens hierdie ongeluk wat die trokdrywer se pad van verwoesting begin het. Die 32-jarige bestuurder van die insleepwa was besig om ’n voertuig wat in die botsing betrokke was, van die pad te sleep.

Die trokdrywer wat met sy vragmotor in die rigting van Umbilo gery het, het op die ongelukstoneel die bestuurder getref.

“Die trok het in die insleepwa vasgery en ook die motor wat dit gesleep het, beskadig,” sê Garrith. “Die bestuurder van die insleepwa is op die toneel dood.”

Garrith vertel terwyl hulle besig was om aandag te skenk aan die drywer van die insleepwa, het die trokdrywer, wat ongedeerd daarvan afgekom het, in die ambulans gespring en weggejaag. Met die polisie agterna. Tydens die jaagtog het die trokdrywer by Umbilo nog ’n ongeluk veroorsaak toe hy met die ambulans in ’n motor vasjaag. Die bestuurder van dié motor is beseer.

Die trokdrywer het skynbaar nege lewens, want hy het opnuut skotvry uit die ambulans geklim.

Die trokdrywer het skynbaar nege lewens, want hy het opnuut skotvry uit die ambulans geklim. Die polisie het hom dadelik gearresteer.

Die ambulans is afgeskryf, sê Garrith. Hy het wel bygevoeg dat die diefstal van die ambulans nie gelei het tot die dood van die drywer van die insleepwa nie. “Hy was regtig erg beseer,” het hy gesê.

Die trokdrywer staar nou etlike aanklagte van nalatige bestuur, strafbare manslag en diefstal van ’n ambulans in die gesig.

Bronne: The Mercury, IOL News