paulwalker2

Twee mans word aangekla van diefstal van ’n deel van die motor waarin Paul Walker gesterf het.

Jameson Witty en Anthony Janow staan tereg weens die diefstal van ’n onderdeel van die Porsche Carrera GT waarin die Fast and the Furious-ster en sy sakevennoot, Roger Rodas, op 30 November verongeluk het.

Adjunk-distriksprokureur Sera Boyadjian sê albei mans word in die gesig gestaar deur aanklagte van diefstal van persoonlike eiendom, die vernietiging van bewysstukke en die “verset teen en obstruksie en vertraging van ’n vredesbeampte”.

Die aanklaers beweer die mans het ’n dakpaneel van die wrak verwyder toe die sleepwa waarop dit vervoer is, by ’n rooi verkeerslig stilgehou het.

Die aanklaers sê ook ’n polisiebeampte het die mans gewaarsku om nie met die misdaadtoneel te peuter nie.

As hulle skuldig bevind word, kan Jameson en Anthony tronkstraf van tot vier en ’n half jaar opgelê word.

Ná sy beweerde wangedrag, het Jameson (18) glo foto’s van die gesteelde motoronderdeel op Instagram gelaai.