Castle couple

Is ek die enigste een wat van ’n goeie “sal-hulle-of-sal-hulle nie”-TV-verhouding hou? Seisoen vyf van Castle begin vandeesweek op M-Net Series Showcase en ek kan nie wag om te kyk hoe dit met een van my gunsteling-TV-paartjies, die raaiselromanskrywer Rick Castle (gespeel deur die super-sjarmante Nathan Fillion) en die taai polisiespeurder Kate Beckett (Stana Katic), gaan nie. Toe hulle aan die einde van verlede seisoen eindelik bymekaar uitkom (nadat ek hulle vier seisoene lank met breinkrag bymekaar probeer uitbring het), was ek lus om te juig. Ek hoop hulle kan dit laat werk, want Caskett (Castle en Beckett) sal goed saam misdade oplos en mekaar gelukkig maak.

Ek erken ek is ’n shipper, ek wroeg graag oor die moontlikheid van ’n nuwe paartjie. Die term shipper, om die Urban Dictionary aan te haal, is “iemand wat wil hê twee karakters moet bymekaar uitkom en/of ondersteuning toon vir twee karakters wat reeds bymekaar is”. Die term ship het ontstaan toe aanhangers fiksie oor The X-Files se Mulder en Scully geskryf het. Die aanhangers het hulself toe shippers genoem. Dit het vinnig versprei en dis nou die titel wat ’n mens jouself gee as jy meen twee karakters moet of sal bymekaar uitkom.

As jy kan onthou jy het in die 80’s duim vasgehou dat Maddie en David in Moonlighting bymekaar uitkom of gejuig toe Sam en Diane in Cheers of Angela en Tony in Who’s the Boss begin uitgaan, is jy óf ’n shipper óf jy verstaan die aantrekkingskrag van ’n goeie ship. Dalk het jy Ross en Rachel in Friends aangemoedig, wat eindelik ná amper 10 jaar bymekaar uitgekom het (al moes ons eers leer wat dit beteken om ’n blaaskans te neem), of Carrie en Big in Sex and the City, nadat ons saam met haar gehuil het toe hy haar oproepe vermy en haar voor die kansel los. En Glee-aanhangers sal Kurt en Blaine moet noem, wat so ’n volmaakte paartjie is dat hulle selfs ’n saamgestelde naam het, Klaine.

’n Hele spul paartjies het my al bly gemaak (Barney en Robin in How I Met Your Mother was ’n slim skuif en dit was oulik toe Urkel en Laura in Family Matters bymekaar uitkom) of my hart gebreek (ek het emmers vol trane gehuil toe dit duidelik word die Doctor en Rose kan nie bymekaar wees nie in Doctor Who) en ander frustreer my net met hul onvermoë om die liefde te deel (ja, ek kyk vir julle, Ziva en Tony in NCIS).

Dis moeilik om gunstelinge te kies, maar ek het probeer.

Hier is drie van my gunsteling-paartjies wat eindelik (soort van) bymekaar is

Pam en Jim in The Office: Hy het van die begin af van haar gehou. Sy was aan iemand anders verloof (daardie ou in die pakhuis). Hy het begin flirt. Sy het begin flirt. Hy het haar eindelik vertel hoe hy voel. Hulle het getrou en kinders gehad. Ek wil byvoeg “en vir altyd gelukkig saamgewoon”, want ek is seker hulle sal noudat die reeks geëindig het.

Buffy en Angel in Buffy the Vampire Slayer: Hulle was die oorspronklike mensmeisie-raak-op-vampier-verlief-verhaal, voor Bella en haar glansende vampier op die toneel verskyn het. Ongelukkig het Angel sy siel verloor toe hulle hul verhouding volvoer en haar daarna probeer vermoor. Hy het sy siel teruggekry, maar sy moes hom doodmaak om te keer dat die wêreld vergaan. Hy het teruggekom, maar hulle kon nie saam wees sonder dat hulle mekaar waarskynlik in die een of ander stadium sou moes doodmaak nie. Sug. Ek wil huil as ek net aan hierdie arme paartjie dink, maar op stuk van sake maak vampiere nie goeie kêrels uit nie.

Peter en Olivia in Fringe: Dinge het ingewikkeld geraak vir Polivia. Hulle was verlief, Olivia is deur Fauxlivia van die alternatiewe heelal vervang (as dit nie vir jou sin maak nie, moet jy regtig hierdie wonderlike wetenskapsfiksiereeks kyk), die regte Olivia keer terug en dan word Peter uitgewis! Maar hy kom terug, want soos een van daardie grillerige Observers gesê het: “Ek verstaan jy kon nie heeltemal uitgewis word nie, want die mense wat vir jou omgee, kon jou nie ten volle laat vaar nie. En jy kon hulle nie laat vaar nie. Ek verstaan jy noem dit . . . liefde.” Ek kyk stadigaan die laaste seisoen op DVD en vind dit moeilik om hierdie paartjie te groet.

Drie nog-nie-paartjies-nie waarvoor ek duim vashou

Emily en Jack in Revenge: Hulle hoort bymekaar. Hy kan haar gesond maak en sy het iemand nodig wat sy kan vertrou. Komaan, Emily, hy is lief vir jou. Jack ken jou en hy is lief vir jou.

Mike en Rachel in Suits: Mike is ’n idioot wat goed opmors en Rachel is net ideaal vir almal se vals prokureur.

Olivia en Fitz in The Fixer: Hulle kan nie saam wees nie, maar hulle moet eenvoudig. Die manier waarop hulle na mekaar kyk, breek my hart. Ja, hy is die Amerikaanse president en sy is sy aan-af-minnares. Ja, sy vrou het onlangs ’n baba gehad. Maar in die volmaakte wêreld sou hulle saam gewees het.

& Seisoen vyf van Castle begin op Dinsdag 9 Julie om 19:30 op M-Net Series Showcase (kanaal 113).

- Natalie Cavernelis

Natalie Cavernelis is ’n subredakteur by ons sustertydskrif YOU en is dol oor TV, haar kleuter en haar man, soms in daardie volgorde.