Charlie Sheen se voormalige Two and a Half Men-medester Holland Taylor het hom geprys.

Terwyl die akteur se verlede hom ’n reputasie as molesmaker besorg het, het Holland, wat sy ma gespeel het in Two and a Half Men, net lof vir die 47-jarige ster.

Sy het vir die tydskrif Parade gesê: “Enigiemand wat al tyd saam met Charlie deurgebring het, hou van hom. Hy is intelligent.”

Charlie het by Two and a Half Men die trekpas gekry oor sy wisselvallige gedrag. Hy het onder meer saam met prostitute partytjie gehou, dwelms gebruik en die program se skepper, Chuck Lorre, sleggesê. Holland (70) meen Charlie se opvoeding en vroeë roem het tot sy ineenstorting gelei.

Sy het verduidelik: “Hy het grootgeword met ’n rolprentster-pa (Martin Sheen) wat die wêreld vol rinkink het. Vandag is Martin ’n groot voorstander van Alkoholiste Anoniem en baie openlik daaroor, maar destyds was Martin ’n jong, gekke, skitterende talent. Hy was altyd weg en het soms sy kinders saamgeneem na waar hy moes gaan.”

“Dis ’n gek manier van grootword. Toe word Charlie boonop self ’n tienerrolprentster wat op enige gegewe oomblik honderdduisende dollars in sy sak het. Dit klink vir baie mense wonderlik, maar dis nie so maklik om volwasse te word en ’n gewone lewe te hê nie.”