Tracey, wat haarself speel, “ontdek” die karakter Justin wat deur Eden Classens gespeel word. Ons het met haar gesels om te hoor wat haar ervaring daarvan was.

Ons hoor jy is ’n groot aanhanger van Suidooster. Hoekom hou jy so baie van die sepie?
Ek is mal oor eerstes. Dit is die eerste Afrikaanse sepie in die Wes-Kaap, die eerste sepie wat ’n Moslem-gesin as hoofkarakters het en die eerste sepie wat wys hoe ons Kapenaars regtig oor die weg kom. Die span van Suidooster het vandat ek die eerste keer met hulle gesels en onderhoude gevoer het van Suidooster-magic gepraat en dit is eerlikwaar daar. Ek glo dis wat dit spesiaal maak en dis deel van Suidooster se sukses. 


Is dit hoekom jy besluit het om daarin te verskyn?
Absoluut en ook omdat dit iets is wat ek gedink het nogal lekker kan wees -- om so een of twee keer in ’n sepie te verskyn. Dit was baie, baie lekker. Nou moet ons sien wat verder gebeur.


Hoeveel dae was jy op stel en was dit vir jou lekker om saam met die mense te werk wat jy elke dag op die kassie sien?
Ek was amptelik een dag op stel, maar het ’n dag vroeër saam met die span tyd deurgebring, net om te sien hoe dinge werk. Die vervaardigers het uit hul pad gegaan om dinge vir my maklik te maak. Omdat my program so druk is (Heart FM waar sy haar eie program het en Bravo! op kykNET waar sy ’n aanbieder is), wou hulle seker maak ons skiet al my tonele op een dag. Dit het baie gehelp. Dit was hope pret, maar ook senutergend om saam met sulke bekendes en bemindes in die bedryf op TV te verskyn.

Wie is jou gunstelingkarakter?
Dit sal maar Mymoena moet wees.


Wat het jou verbaas oor die werk as akteur in ’n sepie?
Die vervaardiger het vir my gewys dat ek nie net my eie woorde nie, maar ook my mede-akteurs se woorde moet leer sodat jy nie heeltemal verbaas lyk wanneer hulle op jou woorde reageer nie. 

Wat was jou ervaring om jouself te speel? Moet ’n mens maar ’n bietjie toneelspeel of kan jy maar net jouself speel?
Ha-ha. Dit was so ’n bietjie van albei. Ek praat oor die algemeen baie hard, maar ek moes baie sagter praat. Ek moes dit in gedagte hou. 


Wat dink jy regtig van Eden Classens se sangtalent?
Hy sing regtig baie goed en ek weet as kykers die liedjie hoor, sal hulle mal wees daaroor.


Wat verkies jy -- televisie of radio? Hoekom?
Op sekere dae TV en op ander dae radio. Albei het wonderlike voordele en lekker oomblikke en dan is die teenoorgestelde ook waar vir albei. So dit hang van die dag af.

Justin wat deur Eden Classens gespeel word word deur Tracey Lange ontdek

Jy is waarskynlik baie besig tussen Bravo! en jou radioprogram. Kry jy ooit tyd om te ontspan? Indien wel, wat doen jy graag in jou vrye tyd?
Baie min! Maar as daar wel tyd is, probeer ek rustig by die huis wees met ’n boek of ek loer in by geliefdes. Dis altyd hope pret en laat my van werkdinge vergeet.


Jy klink en lyk altyd so opgewek wanneer ons jou op TV sien of oor die radio hoor. Kry jy ooit ’n af dag? 
Tracey op TV en radio is presies dieselfde een as by die huis. By die huis is my grappies net nog meer simpel en ek loop nogal gereeld in my koffietafel vas as ek moeg is. Ek kry ook af dae, maar as ek by die werk kom is ek so dankbaar ek kan die werk doen wat ek doen. Dan voel ek onmiddellik beter en probeer die dag vroliker maak vir ander.