Dit was eers bloot hul slaapkamer, maar die dubbelbed is nou uitgeskuif om plek te maak vir ’n hospitaalbed, suurstoftenk, medisyne en ander mediese toerusting.

Johnny Stephens lê stil op die bed, met net ’n hand wat af en toe na sy vrou se hemp gryp terwyl sy by hom waak. Sy praat met hom en kreungeluide ontsnap uit sy mond.

Sy glo vas hy weet wat om hom aangaan, al is hy heeltemal verlam en kan hy glad nie praat of kommunikeer nie, sê

Erica Stephens (46) terwyl sy na haar man staar.

Johnny (51), eienaar van ’n vervoermaatskappy in Christiana in Noordwes, is een van 139 Suid-Afrikaners wat teen April verlede jaar besmet was met slenkdalkoors, ’n siekte waarvoor die mediese wetenskap nog geen verduideliking of medikasie het nie.

Bespreek vir Skouspel!

In die meeste gevalle veroorsaak die siekte net kwaai hoofpyn, balansprobleme en naarheid. Maar 15 van die mense wat in die laaste uitbraak siek geraak het, het komplikasies gehad deurdat die virus ’n breininfeksie veroorsaak het. Johnny is een van net twee van dié pasiënte wat nie gesterf het nie.

Die dokters sê hy het breinskade. Sy oë is oop, maar niemand weet of hy enigsins bewus is van wat om hom aangaan nie.

“Jy lees so baie van slenkdalkoors; dat mense wat dit kry óf gesond word óf sterf. Maar Johnny is tussenin gelos. Tussen genees en die dood.”

Ná vyf maande in verskillende hospitale in Bloemfontein het Erica haar man huis toe gebring sodat sy hom self kan versorg. Sy sal hom nooit in ’n inrigting sit nie, sê sy beslis toe sy om die bed stap en die gordyne ooptrek. Buite skyn die son warm ná die nag se donderstorm.

“Kyk bietjie uit, Stevie,” roep sy hom op sy troetelnaam. Sy draai sy kop na die venster. “Sien jy, die reën is verby.”

Lees die volledige roerende artikel in Huisgenoot, 13 Januarie 2011.