In Huisgenoot se agter-die-skerms-blog gesels joernalis Asa Sokopo oor haar eksklusiewe ontmoeting met Tobeka Madiba-Zuma, die president se derde vrou.

[caption id="attachment_56462" align="alignnone" width="400"]Huisgenoot se verslaggewer Asa Sokopo en Tobeka Zuma. Foto: Luba Lesolle Huisgenoot se verslaggewer Asa Sokopo en Tobeka Zuma in pres. Zuma se amptelike woning in Druban. Foto: Luba Lesolle[/caption]

TERWYL ons met die styl oprit ry om langs die veiligheidswag se hut by pres. Jacob Zuma se amptelike woning in Morningside, Durban, te gaan parkeer, voel ek en fotograaf Luba Lesolle meer as ’n bietjie geïntimideer. Ek glo nog steeds kameras het ons dopgehou terwyl ons opgery het, maar Luba is doodseker dis my verbeelding. Watter soort mens is ons presidentsvrou Tobeka Madima-Zuma? Wat gaan sy vir ons vertel? Wat gaan sy dra? My verstand gons behoorlik terwyl ons verwelkom word by Dube House, voorheen bekend as die King’s House.

Ons ontmoet uiteindelik haar persoonlike assistent, Khanyisile Maphumulo, wat die onderhoud vir ons gereël het. Khanyi is onberispelik professioneel en dra ’n swart pakkie en hakskoene. Sy gee ons ’n stewige handdruk elk en nooi ons binne. (In hierdie stadium voel ek ’n bietjie asof ek in ’n episode van die TV-reeks The Fixer is, en ek is nie seker hoekom nie.) “Ma’am maak net gou vir julle gereed; sy kom pas uit ’n onderhoud,” sê Khanyi vriendelik.

Elkeen van die president se vroue het ’n persoonlike assistent tot haar beskikking. Behalwe vir hul eie sakebelange is ons eerste dames ook filantrope wat verskeie stigtings in die lewe geroep het. In die geval van Madam Zuma, soos sy algemeen bekend is, staan sy aan die hoof van die Tobeka Madiba-Zuma-stigting vir gesondheidsorg en vrouebemagtiging – en tydens ons onderhoud laat sy nie die kans verbygaan om ons daarvan te vertel nie.

Madam Zuma is die ene glimlagge as sy die sitkamer binnekom waar ons die onderhoud moet voer. Khanyi bied ons verversings aan en glip dan ongesiens by die kamer uit. Die eerste ding wat my van madam Zuma tref, is haar dramatiese gewigverlies.

[caption id="attachment_56474" align="alignnone" width="338"]Kyk hoe viets lyk Tobeka nou (foto links)! Foto links: Luba Lesolle. Foto regs: GovernmentZA op Flickr Kyk hoe viets lyk Tobeka nou (foto links)! Foto: Luba Lesolle. Foto regs: GovernmentZA op Flickr[/caption]

Sy lyk fantasties in ’n noupassende skelpienk Calvin Klein-rok en fyn pers Coach-katjiehakke. Sy geen ons ook elkeen ’n stewige handdruk en val dadelik met die onderhoud weg. Sy’s vol selfvertroue, welsprekend en ’n duidelike glinster verskyn in haar oë as sy gesels oor haar kinders, stiefkinders en haar man.

[caption id="attachment_56480" align="alignnone" width="600"]Foto's: Luba Lesolle Foto's: Luba Lesolle[/caption]

Die een oomblik lag ons histeries as sy bloos oor hoe die president haar die hof gemaak het, hul bynaampies vir mekaar en hoe hy een keer met die eerste vroue se gewig gespot het in een van sy toesprake.

[caption id="attachment_56483" align="alignnone" width="522"]Drie van ons eerste vroue. Van links: mevv. Bongi, Tobeka en Nompumelelo Zuma. Foto: GovernmentZA op Flickr Drie van ons eerste vroue. Van links: mevv. Bongi, Tobeka en Nompumelelo Zuma. Foto: GovernmentZA op Flickr[/caption]

Dan is sy weer ernstig as ons gesels oor hoe sy twee jaar gelede ’n persoonlike assistent en vriendin aan kanker verloor het. Dit het haar meer vasberade gemaak om vroue in landelike gebiede – en hul mans – oor vrouegesondheid op te voed. Gou gesels ons oor bors-selfondersoek en hoe belangrik dit is om minstens een keer per jaar ’n Pap-smeer te laat doen.

Madam Zuma is vurig en geesdriftig en dra haar hart op haar mou. Teen die einde van die onderhoud voel ek of ek met ’n ou vriendin gesels het. Ons onderhoud eindig met ’n warm omhelsing en dan is sy gereed vir die fotosessie. Sy poseer grasieus en met gemak vir die kamera – sy is op slot van sake tog die presidentsvrou.

- Asa Sokopo

Huisgenoto collage Lees Asa Sokopo se eksklusiewe onderhoud in die nuutste uitgawe van Huisgenoot (24 Oktober) wat van vandag af op die rak is.