Issie Dippenaar (58) se tuinwerker van die afgelope agt jaar verskyn more in die Ermelo-distrikshof in verband met haar moord.

Die 28-jarige man word van Issie se moord aangekla nadat haar vasgebinde lyk Maandag agter in haar motor se bagasiebak gevind is.

Issie was die stigter van die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) se kinderhuise in Ermelo. Haar wrede dood het die gemeenskap tot stilstand geruk.

“Die man wat dit aan Issie gedoen het, sal nooit weet watter ongelooflike mens hy vermoor het en die gevolge ken wat haar dood op die kinderhuise gaan hê nie,” het ’n maatskaplike werker van CMR aan Huisgenoot gesê.

Nadat Issie se ma haar Maandagaand nie in die hande kon kry nie, het haar buurman Abe Kruger (57) by haar huis gaan aanklop. Ná ’n lang soektog het hy Issie se lyk in haar voertuig se bagasiebak gevind. ’n Elektriese koord was om haar hande en nek gebind en haar mond was glo met ’n pleister toegeplak.

’n Plastieksak, of soortgelyke voorwerp, was in haar keel afgedruk.

Die tuinwerker wat nou vir haar moord aangekla word, is Dinsdag deur die Ermelo-polisie in Uitbreiding 6 van Wesselton aangekeer. Volgens kapt. Carla Prinsloo, polisiewoordvoerder, is ’n gaspistool, Issie se kredietkaart en ’n groot bedrag geld by die man gevind.

Hy is tydens sy inhegtenisneming in sy linkersy gewond en is vandag (Woensdag) onder polisiebewaking in die hospitaal aangehou voor sy eerste hofverskyning môre.

Volgens familielede het die tuinwerker agt jaar vir Issie en haar oorlede pastoor-man, André, gewerk. André was ’n leraar aan die AGS Agape-gemeente op Ermelo en is twee jaar gelede oorlede.

“Issie was altyd betrokke by die kerk se welsynsprojekte en het ’n groot passie daarvoor gehad. Sy en André het ’n groot rol in die gemeenskap gespeel,” vertel die vriendin.

Ná haar man se dood het die tuinwerker steeds by Issie gewerk maar hy het glo moeilikheid begin maak en sy moes hom laat gaan. Hy het glo ook die ander werksgeleenthede verloor wat Issie vir hom gereël het.

Hy het Issie glo begin konfronteer oor waarom hy nie meer vir haar mag werk nie en het blykbaar begin dreig dat hy na haar huis sal terugkom en haar doodmaak.

Volgens Abe het Issie die vorige twee weke by haar ma gaan woon omdat sy bang was vir die afgedankte tuinier.

En die ironie is, toe sy die moed bymekaarskraap om Maandagaand wel in haar eie huis te gaan slaap, is sy dieselfde aand nog vermoor.

“Issie het laas Donderdag in ’n selgroepie opgestaan en gesê sy leef in vrees, want die man eis haar lewe . . . toe word sy 50 m van my huis af vermoor sonder dat enigiemand iets gehoor het,” vertel Abe.

Issie was die afgelope 16 jaar betrokke by CMR en het sedert 2008 die drie kinderhuise in Ermelo op die been gebring. Sy het voor haar dood planne gemaak om ook ’n halfweghuis te stig sodat die kinders ná skool daar kan woon.

Ekstra bron: Netwerk24