’n Pretpark is veronderstel om pret te wees. Maar dit was allermins die geval nadat ’n 18-jarige van Ysland hom Maandag uit ’n tuimeltrein doodgeval het.

Die seun was saam met familie en ’n vriend met vakansie toe hulle Terra Mitica (mitiese land in Spaans) in Benidorm, Spanje, besoek.

Die polisie het om 16:45 ’n oproep ontvang nadat die seun glo uit die groen Inferno-rit geval het omdat daar iets met die harnas verkeerd was.

Hy is kort daarna in die ambulans oorlede.

Die tuimeltrein is in die deel van die park met ’n Egiptiese tema geleë en is in 2007 bekendgestel.

Die oorledene se naam is nog nie bekendgemaak nie en die polisie ondersoek die omstandighede rakende sy dood.

Bronne: Times Live en Independant.co. uk