Waarskuwende sirenes het heel nag afgegaan in groot dele aan Nieu-Seeland se ooskus ná ’n reuse-aardbewing vroeër. Die 7.8-aardbewing het die suidelike eiland net na middernag laat skud.

Kort daarna het die Nieu-Seelandse ministerie van burgerlike beskerming en nooddienste ’n tsoenami-waarskuwing uitgereik. Derduisende Nieu-Seelanders het in die nanagure hul huise ontruim en na die binneland gevlug. Deinings van drie tot vyf meter hoog word verwag, het die ministerie bevestig. Die eerste golwe het reeds die noordoostelike kus van die suidelike eiland getref. Volgens The Herald, ’n plaaslike koerant, is die tsoenami-waarskuwing "die ergste in Nieu-Seeland se geskiedenis". Die aanvanklike aandbewing is gevolg deur minstens 40 naskokke.

Maggie du Buisson, ’n Suid-Afrikaner wat in Christchurch woon, het op Huisgenoot se Facebookblad geskryf "ons kry die heeltyd naskokke. Ons tasse is gelaai net ingeval ons moet ontruim.

"Die aarde het vir so vyf sekondes geruk en toe begin swaai. Ons het buitentoe gehardloop en ek en my suster het aan mekaar vasgehou, want ons het die heeltyd ons balans verloor." Volgens Weatherwatch New Zealand het ’n brander van 2.5 m reeds ’n baai in Kaikoura, 181 km noord van Christchurch, getref. Die ministerie wat die waarskuwing uitgereik het, het dit ook duidelik gemaak die golwe kan etlike ure duur en dat die aanvanklike branders nie noodwendig die hoogste sal wees nie. Inwoners is gevra om te alle tye hul radio's aangeskakel te hou en na nuusbulletins met die nuutste verwikkelinge te luister.

Die omvang van die skade word ook stadigaan duideliker en vrese bestaan dat die dorpie Waiau in Noord-Canterbury die swaarste getref is.

Volgens The Herald is kragtoevoer afgesny en is paaie onbegaanbaar. ’n Brug oor die Waiaurivier hier is ook glo beskadig, wat ontruiming van die dorpie bemoeilik.

Die BBC berig Nieu-Seelandse owerhede verwag die hoogste branders, sommige so hoog as 5 m, tussen Malborough aan die bo-punt van die suidelike eiland, en Bank Paninsula, net suid van Christchurch.

’n Reuse-aardbewing het Christchurch ook in 2011 getref waarin 185 mense dood is.