’n Amerikaanse vrou wat vir Donald Trump gestem het in die onlangse Amerikaanse presidentsverkiesing, was geskok toe sy uitvind haar man gaan moontlik binnekort gedwing word om die land te verlaat. Die man, Roberto Beristain (43), het glo sowat 20 jaar gelede die land onwettig uit sy tuisstad in Mexiko binnegekom en is getroud met Helen Beristain. Hy bedryf ’n restaurant in Granger, ’n dorp in die deelstaat Indiana, en sal na verwagting eersdaags gedeporteer word. Hy is op 6 Februarie in hegtenis geneem nadat hy glo reeds in 1998 die eerste keer byna gedeporteer en gewaarsku is om die land te verlaat.

“Hulle was buite ons huis, het aan die venster geklop en gevra of ek Roberto se vrou is,” het Helen later aan Indiana Public Media gesê.

“Toe ek ‘ja’ antwoord, is ek gesê my man word aangehou weens ’n bevel van 16 en ’n half jaar gelede wat sê hy moet die land verlaat. Ek het gesê: ‘Dis seker ’n grap!’ ”

Sy het bygevoeg sy het vir president Trump gestem omdat sy geglo het net “moordenaars en bendelede” gaan gedeporteer word. “ ’n Mens wil veilig voel wanneer jy jou huis verlaat. Ek glo dit opreg. Daarom het ek vir mnr. Trump gestem.”

Haar man gaan glo binne die volgende week deporteer word.

“[Trump] het gesê goeie mense sal nie gedeporteer word nie en dat die goeie mense nagegaan sal word.”

Bronne: BuzzFeed, Indiana Public Media, Change.org, South Bend Tribune.