Vandat sy terug is by die huis het sy al onder meer ’n potjiekos-wedstryd beoordeel en daar was al drie artikels in die plaaslike koerante oor haar, vertel die borrelende Trudie Niehaus, ’n dramadosent van George. “Een ding wat ek hier ervaar het, is dat aanhouer wen, want ek kan nie bak nie en ek het die suurroomdeeg van die lamspastei bemeester. Ek beplan om ’n kursus in gebak te volg sodat ek daardie leemte in my repertoire van kookkuns kan verbeter.”

Met haar aankoms op Prins Albert en die afstap in Kerkstraat vir die eerste opnames, het sy gevoel asof sy in haar oorlede pa, Gert, se voetspore stap.

“Hy is in die distrik op die plaas Spreeufontein gebore en het baie staaltjies uit sy kinderdae vertel, soos van die groen lig wat in ’n driffie met volmaan verskyn en die Jood wat tydens die Boereoorlog gesneuwel het en daar in die veld begrawe is, en dat hy sy pad terug na sy vaderland soek. Ook hoe arm hulle was op die plaas en hoe hulle rugby in die stof tussen die bossies gespeel het en van die mampoerstokery.”

Haar grootste uitdaging was die onvoorspelbaarheid van die program.

“Wanneer ons waar moet wees, wat moet ons kook of bak, wat die beoordelaars regtig wil hê, wat die uitslag van die dag se bedrywighede was, wie gaan huis toe en wie saam met wie ingedeel sou word. Vir iemand soos ek wat alles honderd keer oorweeg, lysies maak en herbeplan, het die onsekerhede my klaar gemaak.”

Sy het geleer dat vasbyt en stilbly twee deugde is wat mens goed te staan kom in die lewe, vertel Trudie. “Ek is verbaas dat ek nie een keer gevloek het nie. Maar wees ten alle tye wie jy is en neem tyd en leer ken die hart van die mens voor jy hulle veroordeel. Stres veroorsaak vreemde goed, daai rooi lipstiffie op jou lippe verdwyn en verskyn dan wonderbaarlik op jou wange as ’n gloeiende blos. Maar probeer is die beste geweer. Oefen tot jy iets bemeester en jou beloning is beslis die moeite werd.”

Trudie meen dat Kokkedoor ’n kulinêre en kulturele ervaring was wat sy vir ewig sal onthou.

“Dit was vir my die grootste verrassing dat ek in die eerste plek gekies is as ’n finalis. Ek het gedink ek is nie goed genoeg om die eerste uitstemsessie te oorleef nie, maar ek het mooi vir liewe Jesus gevra dat ek asseblief tog nie die eerste dag al moes huis toe gaan nie.

“Vir nou vat ek die lewe maar dag vir dag. Wie sal weet watter verrassings en ervarings op jou wag?”

Dan was daar haar ongelooflike steunpilare. “Die mooiste ding wat iemand vir my gesê het nadat ek terug was in die regte lewe, was van my dogter, Sinè Swanepoel. Sy is ’n sjef en weet beslis meer as ek. Sy het gesê: ‘Mamma, sien jy nou, ek het jou mos gesê jy kan.’

“My vriendin in Perth, Magda van Eeden, het summier begin met ’n webblad/blog vir my, want sy het al lankal gesê ek moet een begin. En toe vervies ek my sommer vir my man van 36 jaar, Peter Swanepoel, wat ná die uitsending van die eerste program afhaak met: ‘Trudie, ek is verstom; dit lyk asof jy nie een oomblik geniet het nie.’

“My maggies, hoe de joos kan jy in die middel van ’n hittige stryd iets geniet?”

Deeg en bak is nie haar sterkpunt nie, maar deesdae maak sy haar eie pasteikorse, spog Trudie.

“Winkeldeeg sal van nou af net daar bly, in die winkel . . . ag wag, ek jok, ek sal maar die skilferkors gaan koop, want ek is maar ongeduldig as ’n ding te lank vat om te maak.”

Trudie se blog is by http://www.trudieniehaus.blogspot.com/

- Trudie is in episode vyf wat op 9 Mei uitgesaai is, uitgestem. Kokkedoor is Donderdae, 20:00, op kykNET.