Eers het sy haar nuwe kêrel oorreed om van sy 65 vuurwapens ontslae te raak, nou laat die blonde bom van Benoni hom selfs dink aan trou! Die paartjie is nog nie lank saam nie, maar die Oscar-bekroonde akteurs praat glo reeds daarvan om te trou, berig berig RadarOnline.com. As dit gebeur, sal dit Charlize se eerste huwelik en Sean se derde een wees.

“Sean is smoorverlief op Charlize en haar seun, Jackson. Hy is ’n heel ander mens by Charlize; sy bring die sagte en pret kant van hom uit wat nie baie mense van hom sien nie,” verklap iemand in die binnekring.

Die duifies het in die afgelope paar weke oor trou begin praat nadat die 53-jarige Sean by Charlize (38) ingetrek het, vertel die bron. “Sy wou nooit trou nie, maar sy sien hoe Sean met Jackson is, en sy sing nou ’n ander deuntjie. Charlize het altyd gedink dit gaan net sy en Jackson wees, en sy was okei daarmee. Dis ’n groot stap vir haar om nou te praat van trou.”

Die paartjie se verteenwoordigers het nog nie kommentaar gelewer op hul verhouding nie. Hulle is die afgelope week gekiek terwyl hulle ’n romantiese uitstappie geniet het by die see in Malibu, Kalifornië. Hulle het daar in Sean se strandhuis uitgespan.

Charlize en Sean het geweet daar is steelfotograwe wat hulle afneem, maar die paartjie was glad nie skaam om te wys hoe lief hulle vir mekaar is nie, en het mekaar heeltyd gedruk en gesoen, berig E! Online. Sean het ook deurentyd ’n wakende ogie gehou oor Charlize se tweejarige seun, Jackson.

Die paartjie ken mekaar al langer as ’n dekade en was altyd vriende. Dié wat hulle ken, is dus glad nie verbaas dat hul verhouding so vinnig beweeg nie.

Sean was lank enkellopend nadat hy van die 47-jarige aktrise Robin Wright, die ma van sy dogter, Dylan (22) en seun Hopper (20), geskei het. Hulle was 13 jaar getroud. “Mense besef nie hoe moeilik die egskeiding vir hom was nie,” sê die bron.

“Hy het gevoel hy het lelik gefaal; hy wou nooit skei nie. Charlize is sowaar die lig in sy lewe. Hy praat selfs daarvan om Jackson aan te neem nadat hulle getrou het!”

BRONNE: RADARONLINE.COM, EONLINE.COM