Port Edward –

“Dis so ’n lekker gevoel om ’n kind se lewe te red,” het Chantelle Botha, wat foto’s by die strandseremonie Saterdagmiddag geneem het, laat hoor. Die beskeie heldin sê sy’t net ’n gevoel gekry dat sy moet omdraai. “Ek weet nie wat vir my gesê het ek moet omdraai en kyk nie. Ek het gesien hoe twee groter kinders ’n kind uit die water trek. Ek het net my kamera laat val en gehardloop.”

Dit het nie gelyk of daar enige volwassenes was wat toesig oor die kinders gehou het nie

Chantelle sê sy het die seuntjie probeer bybring toe sy by hom kom. “Ek het ’n flou polsslag gekry.”

Seereddingsbeamptes en lyfwagte het op die toneel opgedaag en met mediese bystand voortgegaan. Chantelle se bybringpogings was so doeltreffend dat dit nie vir die kleinding nodig was om aan ’n ventilator gekoppel te word nie.

Chantelle sê die seuntjie was deel van ’n groepie kinders van ’n kerk wat op ’n uitstappie by die see was.

Geen volwassenes

Sy het gesê dit het nie gelyk of daar enige volwassenes was wat toesig oor die kinders gehou het nie – daar was wel ’n ouer meisie wat ’n ogie gehou het.

Chantelle sê sy het noodhulpkursusse gedoen en het ook al gesien wat haar man, ’n paramedikus by Netcare 911 in Margate, doen.

“Ek was al uit saam met hom; ek het al gesien hoe dinge gedoen word.”

Chantelle se kollega het intussen die pasgetroudes se spesiale dag aanhou afneem. Die paartjie was vanweë hul posisie op die strand salig onbewus van wat gebeur het.

Daar is voortgegaan met die trouvieringe en later, toe wat sy gedoen het uiteindelik tot haar “deurgedring” het, het sy trots gevoel, sê Chantelle. “Dit was ’n vinnige reaksie. Foei tog, hy was ‘n babatjie.”

Bron: News24