Sy gaan bes moontlik nie meer lank leef nie, maar dié skrywer by wie eierstokkanker gediagnoseer is, gebruik die tydjie wat sy oorhet om ’n nuwe liefde vir haar man te soek.

[caption id="attachment_162701" align="alignnone" width="603"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

In ’n snaakse maar hartroerende rubriek vir die New York Times beskryf Amy Rosenthal (51) van Chicago hoe sy ’n nuwe maat vir die liefde van haar lewe begin soek het.

Dis is vol humor en liefde, maar vertel ook die hartseer verhaal van ’n sterwende vrou se laaste wens vir haar man, Jason – om weer liefde te vind.

Die egpaar het 26 gelukkige jare saam deurgebring en nog talle meer beplan – tot ’n besoek aan die noodeenheid hul lewe ingrypend verander het.

“Wil jy ’n siek grap hoor? ’n Man en vrou stap laataand op 5 September 2015 die noodeenheid binne,” skryf die kinderboekskrywer.

“ ’n Paar uur en enkele toetse later, verklaar die dokter die ongewone pyn wat die vrou in haar regtersy ervaar, is nie die blindedermontsteking wat hulle vermoed het nie; dis eierstokkanker.”

Die dag toe hulle van die kanker uitvind, was ook die dag waarop die laaste van hul drie kinders die nes verlaat het. Skielik het Amy en Jason so baie planne gehad wat hulle nie meer sou kon verwesenlik nie.

“Geen reis saam met my man en ouers na Suid-Afrika nie. Geen rede nou om aansoek te doen om die Harvard Loeb-genootskap nie. Geen droomtoer deur Asië saam met my ma nie. Geen skryfseminare aan daardie wonderlike skole in Indië, Vancouver en Jakarta nie. Geen wonder die woorde cancer en cancel lyk so eenders nie,” skryf Amy.

Nadat sy van die hospitaal teruggekeer het, het Amy – uit wie se pen boeke soos That’s Me Loving You verskyn het – haar daarop begin toespits om in die oomblik te leef. Toe, sê sy, dink sy oor die toekoms.

[caption id="attachment_162705" align="alignnone" width="552"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

Gou het sy besef haar dood hoef nie noodwendig ’n einde te bring aan Jason se lewensvreugde nie. Terwyl sy worstel met die moegheid wat met siek wees saamgaan, het sy ’n aanlyn afspraakprofiel vir haar man opgestel.

“Ek moet dit sê (en dit reg sê) terwyl ek a) jou aandag en b) ’n pols het.

“Ek was nog nooit op Tinder, Bumble of eHarmony nie, maar ek gaan ’n algemene profiel vir Jason hier skep gegrond op my ervaring van seker 9 490 dae saam met hom in dieselfde huis leef,” skryf sy.

Haar “lang, donker en aantreklike” man is ’n prokureur en uitstekende kok wat in sy vrye tyd skilder, sê sy. Hy luister graag na musiek en dis baie maklik om lief vir hom te wees.

Hy trek modieus aan en hul jong volwasse seuns, Justin en Miles, leen dikwels sy klere.

Hy is fiks en baie handig in en om die huis. Hy is ook ’n romantikus wat met blomme by hul eerste swangerskap-ultraklank opgedaag het, skryf sy.

“Hy is ’n absoluut wonderlike pa; enigeen sal dit bevestig. Sien jy daardie ou op die hoek? Gaan vra hom gerus; hy sal vir jou sê. Jason is medelydend – en hy kan ’n pannekoek omwip.”

Sy sluit die brief af met ’n emosionele pleidooi.

“Ek wil nog tyd saam met Jason hê. Ek wil nog tyd saam met my kinders hê. Ek wil nog tyd hê om Donderdagaande in die Green Mill-jazzklub aan martini’s te teug. Maar dit gaan nie gebeur nie. Ek het waarskynlik net ’n paar dae oor van menswees hier op aarde. Waarom doen ek dit dan?

“Ek handel dit af op Valentynsdag – en die mees opregte geskenke wat nie met ’n vaas te doen het nie waarop ek kan hoop, is dat die regte mens dit lees, by Jason uitkom en nog ’n liefdesverhaal begin. Ek los hierdie opsetlik leë ruimte onder as ’n manier om vir julle twee die nuwe begin te gee wat julle verdien.”

Bronne: Metro, Fox31, New York Times