In Johannesburg was die oggendtemperatuur vanoggend ’n ysige 8 °C, maar in die OR Tambo-lughawe het harte warm geklop toe Suid-Afrika se Olimpiese helde die aankomssaal onder groot toejuiging binnestap.

’n Groot groep ondersteuners het die meer as 130 atlete terugverwelkom ná hul deelname aan die pas afgelope Olimpiese Spele in Rio de Janeiro. Daar is gejuig, hande geklap, vlae gewaai en op vuvuzelas geblaas.
Die boodskap was duidelik: Suid-Afrika staan bankvas agter hierdie span, wat na afloop van die wêreld se grootste sportbyeenkoms met 10 medaljes in hul sak spog. Goud is verower deur die atlete Wayde van Niekerk (400 m vir mans) en Caster Semenya (800 m vir vroue).
Die minister van sport en ontspanning, Fikile Mbalula, was ook daar en hy het behoorlik gestraal op Twitter en kon nie uitgetwiet raak nie.
Ons weet wie laat die minister ekstra groot glimlag;-)
Ons wonder wat het Lovu in die minister se oor gefluister? Want hy kan duidelik nie sy lag hou nie . . .