Michelle Chapman (24) het onegte Facebook-profiele geskep en dit gebruik om beledigende boodskappe op haar eie tydlyn te skryf. Dié streek was gemik op haar pa en stiefma, met wie Michelle nie oor die weg kom nie.

Dit het begin toe Michelle ná 20 jaar weer kontak gemaak het met haar vervreemde pa, Roy Jackson. Kort nadat Roy sy nuwe vrou, Louise Steen, aan Michelle voorgestel het, het hy aanstootlike Facebook-boodskappe gekry, blykbaar van Louise se profiel af.

Michelle het binne nege maande agt keer by die polisie in Cornwallis gaan kla dat Roy, Louise en nog familielede aanstootlike Facebook-boodskappe aan haar stuur.

Nadat die polisie haar pa en stiefma ondervra het, is Louise weens die oortredings in hegtenis geneem. Forensiese navorsers het eers ’n jaar later agter die kap van die byl gekom toe die Facebook-profiele met Michelle verbind is.

Michelle het eindelik erken sy het self die boodskappe gestuur. Sy wou klaarblyklik wraak neem op haar pa en sy lewe “hel maak”.

Sy het in 2009 net ’n waarskuwing vir ’n soortgelyke oortreding gekry, maar dié keer het Michelle nie so ligtelik daarvan afgekom nie. Sy is tot 20 maande tronkstraf gevonnis, ’n beskermingsbevel is namens haar slagoffers teen haar uitgereik en haar rekenaar is in beslag geneem.

Bronne: Huffington Post, The Independent, Cornish Guardian