“Ons sentrums kan gestremde gevangenes akkommodeer; daar is tans gestremdes wat vonnisse uitdien,” het die departementele woordvoerder Mthunzi Mhaga gesê.

Vroeër het ’n maatskaplike werker en toesigbeampte tydens Oscar se vonnisverrigtinge in die hooggeregshof in Pretoria getuig dat sy glo die Paralimpiese atleet sou nie veilig in die tronk wees nie.

“Hulle kan nie sy kwesbaarheid elimineer nie en hulle kan nie sy veiligheid verseker nie,” het Annette Vergeer tydens kruisondervraging van Gerrie Nel gesê.

Sy het voorgestel die soort sementvloere en stort- en toiletfasiliteite in tronke is nie geskik vir iemand met Oscar se gebrek nie.

Annette het ook die moontlikheid genoem dat Oscar kwesbaar is vir geweld in die tronk, insluitend verkragting.

Oscar se bene is as kind onder die knie afgesit en dra prosteses.

Mthunzi het gesê terwyl die departement die sub judice-reël respekteer, meen hulle dit is toepaslik om te reageer op die bewerings wat in die hof gemaak is.

“Die bewerings in die hof wil die indruk skep dat ons sentrums onder meer belaai is met onhigiëniese toestande, bendegeweld en verkragting.

“Sulke aantygings oor die toestande in ons sentrums is onakkuraat.”

Mthunzi het gesê die departement is gewillig om wanneer nodig kenners aan die hof beskikbaar te stel.

Vroeër het die hof gehoor Annette het haar verslag oor Oscar saamgestel gegrond op ’n besoek aan ’n Johannesburgse tronk 10 jaar gelede en ’n tronk in Krugersdorp twee jaar gelede, asook deur konsultasie met bewaarders en maatskaplike werkers.

Dit is ook onthul dat die verdediging Annette betaal het om die verslag saam te stel – in die verslag beveel sy aan dat Oscar drie jaar korrektiewe toesig en gemeenskapsdiens opgelê word vir Reeva se skietdood.