Albei was aan diens en in hul uniform geklee. Nadat die video soos ’n veldbrand deur die kuberruim versprei het, het Paul Zwane as “Otto” bekendgestaan.

Ofentse Morwane, woordvoerder vir die Gautengse Korrektiewe Dienste, het Maandag bekendgemaak Zwane is op 5 April dood gevind in sy enkelsel in die Johannesburg-gevangenis. Dié tronk is algemeen bekend as “Sun City”.

Zwane het homself vermoedelik met ’n skoenveter gehang voor hy op daardie dag gevonnis sou word.

Hy is op 31 Maart na dié gevangenis geneem nadat hy skuldig bevind is aan ontvoering en verkragting. Luidens berigte was sy slagoffer ’n minderjarige wat hy herhaaldelik verkrag en aangerand het.

’n Familielid van die slagoffer het beweer Zwane het die minderjarige soos prooi geteiken. “Toe die gemeenskap haar vind, is sy reeds verskeie kere verkrag,” het die familielid gesê.

Zwane het 15 jaar vir die departement van korrektiewe dienste gewerk voor hy op 30 Augustus 2011 afgedank is. Hy was veronderstel om ’n gevangene te bewaak wat na die Leratong-hospitaal in Kagiso geneem moes word toe hy met ’n polisievrou seks gehad en dit op video vasgelê het. Die polisievrou is ook afgedank.

Destyds het Zwane aan Sowetan gesê iemand het sy selfoon in die hande gekry en toe die video in die sosiale media gedeel.

Bronne: news24.com, livemonitor.co.za, sowetanlive.co.za, sundayworld.co.za