’n Motor en ’n vragmotor was Woensdagmiddag kort ná twee-uur in ’n trompop-botsing sowat 30 km van Kimberley betrokke.

Die ongeluk het op die N12 by die Modderrivier-afrit gebeur.

Met paramedici se aankoms op die toneel was die verwronge metaal van die motor ’n moontlike aanduiding dat hoë spoed ’n rol in die ongeluk kon gespeel het.

’n Man se liggaam is in die motorwrak gevind. Volgens Chris Botha, Netcare 911-woordvoerder, het hy op slag gesterf. Nog ’n man is in ’n kritieke toestand en ’n ander man het ernstige beserings opgedoen.