Sydney. – ’n Kat het ’n vrou in Australië gered wat deur ’n giftige slang gepik is toe sy haar roostuin gaan natlei het.

Luidens ’n mediaberig Dinsdag het die troeteldier die slang bespring, geklap en gebyt tot die reptiel dood is.

Denise Thynne (66), van Mackay in die noorde van Queensland, het aan die uitsaaier ABC gesê sy het ’n nare verrassing gekry toe sy die tuinslang optel.

’n Rooipensslang, 10de op die lys van giftige slange in Australië, het daaronder gelê.

“Ek het uitgestap om die tuinslang op te tel om die rose nat te lei. Die slang het onder die tuinslang gelê,” het sy gesê. “Dit het in die son gelê, maar ek het dit nie gesien tot ek die steekpyn gevoel het nie.”

Haar dapper kat, Skitzo, het tot die redding gekom.

“Sy het hom bekruip en dit het gelyk of sy hom hipnotiseer en toe val sy aan om dood te maak.

“Ek het die slang omgedraai en die rooi pens gesien en gedink: ‘O, dis nie ’n baie vriendelike een nie’.”

Aangesien sy al drie keer tevore deur ’n slang gepik is, het sy geweet wat om te doen. Sy het die wond aan haar swellende hand verbind, haar stil gedra en ’n ambulans ontbied. Gelukkig het die slang geen gif ingespuit toe hy gepik het nie.

“Wees versigtig en dra jou bril wanneer jy uitgaan – dit help,” het sy geantwoord toe sy gevra is vir raad oor hoe om slange te hanteer.

En skaf ’n dapper kat soos Skitzo aan.

Bron: News24