Johannesburg –

Saterdag het ’n herrie op sosiale media losgebars toe Jodi-Ann Pearton ’n foto van een van haar Yorkies op Facebook geplaas het. Op die foto lyk dit of die hond vol bloed is. Daarby het sy geskryf: “Uiters gewalg deur #Pompeiipets.co.za, die nuwe troeteldiersalon in die Lonehill-winkelsentrum. Ons het ons honde vandag daarheen geneem en hulle het 1 cm van ons Yorkie se oor afgesny en ons nie daarvan gesê nie. Hulle het dit probeer wegsteek deur hom in sy sak te sit. Toe ons by die huis kom, was ons hond vol bloed en het hy net die helfte van sy oor. Gewalg. Arme engel is nou op pad na die veearts. Hulle beantwoord natuurlik nie my oproepe nie.”

Een van die salon se vennote het aan News24 gesê: “Ons het dit nie probeer toesmeer nie. Die oor is wel geknip, maar ons het dit nie toe geweet nie. Ons was voor (in die salon) en het gesels. Die klant was in die wagarea en het deur die venster gekyk en alles gesien wat gedoen word. Die hele area is oop.”

Die vennoot het gesê dit het nie gelyk of enigiets fout was toe die werk klaar was en die klant met haar twee honde vertrek het nie. “Alles het reg gelyk.”

’n Ander vennoot, wat uit vrees vir viktimisering ook nie geïdentifiseer wil word nie, het gesê dis voor die handliggend dat wanneer iemand hul hond se hare laat knip hulle sal seker maak dis behoorlik gedoen. “As jy ’n sny vra, sal jy kyk dat dit gesny is. Die deel dat ons dit verdoesel het – ek weet nie waar dit vandaan kom nie,” het die tweede vennoot gesê. “Ons werknemer het die oor raakgeknip. Sy het ons nie daarvan gesê nie. Ons het haar tereggewys en ontslaan.”

Die eerste vennoot het gesê hulle probeer ’n deursigtige omgewing skep waar gehaltediens ’n prioriteit is. “Ons het al klante gehad wat by hul honde gaan staan het terwyl hulle gewas word. Ons neem ’n beperkte hoeveelheid honde per dag in, want ons wil soveel moontlik een-tot-een-tyd tussen die versorger en die hond hê,” het hy gesê.

“Mense vra nou: ‘Vat julle mense van die straat af in?’ Dit was ’n opgeleide werknemer met 20 jaar ervaring. Sy was letterlik die hoogs gekwalifiseerde mens hier. Ons het haar vertrou. Ons het die beste moontlike toerusting en het duur daarvoor betaal. Hoekom? Want ons wil hê ons werknemers moet die beste diens kan lewer. Hulle behoort nie met ’n stomp skêr daar te sit nie.”

Die Dierebeskermingsvereniging in Sandton het Dinsdag gesê hulle weet van die voorval en sal die saak ondersoek.

News24