Allie Carter (25) het so ’n pynlike ervaring eerstehands beleef. Haar hond, Trigger wat ’n bietjie ‘trigger-happy’ geraak het, het haar per ongeluk in die voet geskiet.

Sy en Trigger het die afgelope naweek watervoëls in die wildernis van die Amerikaanse deelstaat Indiana gaan jag. In ’n stadium het Allie haar jaggeweer op die grond neergesit, maar sy het nie die veilgheidsknip gestel nie. Sake het byna lelik skeefgeloop toe die uitbundige Trigger, ’n sjokoladebruin Labrador, die sneller met sy poot raaktrap en ’n skoot afvuur.

’n Plaaslike bewaringsbeampte, Jonathon Boyd, het die voorval bevestig. Hy het bygevoeg dat Allie se linkervoet en tone beseer is, maar dat sy reeds uit die hospitaal ontslaan is.

Jonathon het ook ander jagters gemaan om die nodige opleiding te ontvang om voorvalle soos hierdie te vermy. Dit volg na dit aan die lig gekom het dat Allie nie lewensbelangrike jagkursusse deurloop het alvorens sy en Trigger die wildernis ingevaar het nie.

Bronne: Huffington Post; BBC