Sy kyk vir oulaas in die spieëltjie voor sy glimlaggend uit die motor klim. “Hallo my ding,” roep sy en stryk die kreukels in haar broek plat.

’n Lang man stap ingenome nader en raap haar in sy arms op. “Jy’s hier!” sê hy en gee haar ’n piksoen op die mond.

Ina (27) lag en klap Jacobus (30) speels op die boud, en dan stap hulle hand aan hand na Jacobus se plaashuis net buite Modimolle in Limpopo.

“Kan jy glo ons het mekaar in die laaste drie maande net twee naweke nie gesien nie?” vra Ina en kyk droomverlore op in Jacobus se oë.

Ina en Jacobus, een van die boere in die derde reeks van Boer Soek ’n Vrou, is die enigste paartjie wie se liefde geblom het nadat die kameras afgeskakel is. Die twee ry elke naweek honderde kilometers om mekaar te sien, en te oordeel na die verliefde giggellaggies, is dit vir hulle dubbel en dwars die moeite werd.

“Ons het ’n telefoonverhouding,” lag Ina, ’n naeltegnikus van Bloemfontein, en vertel hulle ry gewoonlik naweke tot in Pretoria en kuier dan daar.

“Dis min of meer halfpad tussen Bloemfontein en Modimolle en ek het vriende daar by wie ons vir die naweek kan bly,” voeg Jacobus by en sit sy hand teer op sy “liefie” se been.

Jacobus se telefoonrekening is enorm, verklap Ina. Hulle gesels minstens drie keer per dag en dit het al by meer as een geleentheid gebeur dat die foon sommer net uitsny van al die geklets.

Die verliefdes sit nou gesellig op die bank op Jacobus se stoep en elkeen luister aandagtig wanneer die ander een praat.

“Jacobus verstaan my en luister as ek praat,” sê Ina liefdevol.

Jacobus knipoog en sê dan gemaak ernstig: “Wel, dis nou nog aan die begin, nè?”

Kuier saam met die verliefdes in Huisgenoot, 16 Desember 2010.