Toe hulle ná sewe jaar moeg word vir Gauteng se gewoel en besluit om Kaap toe te trek, het die sanger Heinz Winckler en sy vrou, Aletté-Johanni, hul groot trek haarfyn beplan. En met twee woelwaters in die huis, Lian (3) en Simeon (1), kon hulle ook nie anders nie. Maar soos enige ouer sal weet: Al beplan jy hoe fyn, dinge verloop nie noodwendig seepglad nie.

Einde Januarie was driekwart van hul huisraad al opgepak, en toe die gesin ná ’n besoek aan Amerika by die huis kom, het Lian in sy kamer begin huil, vertel Aletté-Johanni, wat onlangs geboorte geskenk het aan hul derde seun. “Boonop moes ek alleen met die kinders Somerset-Wes toe trek, want Heinz moes nog 10 dae in Johannesburg agterbly vir werk.”

Kenners gee raad oor hoe jy ’n trek kan benader.

Moenie stres nie

Volgens dr. Rosa Bredekamp, ’n sielkundige van Kaapstad, is dit algemeen dat kinders sukkel om aan te pas wanneer gesinne verhuis; daarom is Heinz en Aletté-Johanni se kopseer nie vreemd nie. “Kinders gaan nes volwassenes deur ’n tyd van aanpassing; dis ’n heel normale emosionele reaksie,” sê sy.

Maar kinders het nog nie soos volwassenes die lewensvaardighede wat die aanpassing makliker maak nie, en veral skaam en teruggetrokke kinders kan sukkel, sê sy. “Hulle kan dalk nie verwoord hoe hulle voel nie, en dit bemoeilik die aanpassing nog meer; daarom is angstigheid en verse oor ’n nuwe huis, skool en maats algemeen.”

Takel dit so

Aletté-Johanni sê sy het Lian en Simeon weke voor hul trek daarvan vertel, maar eers toe sy ’n groot ophef maak van die nuwe avontuur wat op hulle wag, was die wa deur die drif. “Ek het hulle vertel ons kry ’n nuwe huis en hulle gaan ’n nuwe bed kry en hulle gaan saam in ’n kamer slaap; dit het hulle baie opgewonde gemaak. As hulle sien jy is opgewonde, steek hulle aan.”

Rosa het ook dié raad:

  • Gaan wys jou kinders die nuwe omgewing, of wys hulle voor die tyd prentjies daarvan.
  • Gee hulle die geleentheid om hul eie kamer in te rig.
  • As julle eers in die nuwe huis is, moedig jou kind aan om nuwe skoolmaats oor te nooi.
  • Help jou kind sy omgewing verken; gaan stap of ry saam met hulle fiets.
  • Moenie skroom om te erken dat aanpassing moeilik is en tyd verg nie. En maak seker jou kind ken jou telefoonnommer sodat jy altyd bereikbaar is.

Ouderdom maak saak

“Dis beter as kleuters bedags eers by hul ma bly, maar as hulle na ’n nuwe kleuterskool gaan, kan dit help as hulle eers vir korter tye of minder dae per week die skooltjie bywoon,” sê Rosa.

Met ouer laerskoolkinders en tieners moet jy doodgewoon gesels oor als wat in hul lewe gebeur. “Raak betrokke by jou kind se aktiwiteite, en luister.

“Tieners wil hê ouers moet na hulle luister, maar dan hul eie besluite neem. Jy kan steeds die leiding verskaf.”

Haal asem, maar let op

Rosa sê dit kan tot vier weke duur voor kinders heeltemal aanpas. As dit langer duur en jou kind toon enige van die volgende tekens, moet jy ’n sielkundige spreek voor die probleem ernstiger raak:

  • Traagheid om skool by te woon.
  • Teruggetrokkenheid en hulle is minder spraaksaam as tevore.
  • Drastiese veranderinge in hul slaap- en eetpatroon.
  • Uitermatige irritasie en ongeduld.
  • Oormatige angstigheid.

- Christiaan Boonzaier

Foto: Salomien Smal van The Earth Photography