Ons is seker jy gaan dalk ’n traan of twee wegpik voor die einde van hierdie video.

Dié advertensie vir ’n orgaanskenkingsveldtog versprei soos ’n veldbrand oor die internet en is reeds meer as 2 miljoen keer gekyk.

Getiteld The Man and the Dog wys die video die hegte vriendskap tussen ’n ouer man en sy getroue hond.

Die man se beste vriend volg hom oral en wag geduldig voor enige gebou waar hy ingaan.

Tot daardie verskriklike oomblik wat die man inderhaas hospitaal toe geneem word . . . en nie weer uitkom nie.

Op die ou end verkondig die video ’n belangrike boodskap. Dis deel van ’n Argentynse veldtog om mense aan te spoor om orgaanskenkers te word.

Trek die sneesdoekies nader. Jy gaan een nodig kry!