2013 Billboard Music Awards - Show

Die 19-jarige ster, wat die afgelope maande vir heelwat omstredenheid gesorg het deur onder meer as minderjarige in nagklubs uit te hang en openbare eiendom in Australië met spuitverf te ontsier, beplan om ’n blaaskans te vat wanneer Journals uitgereik word; dit kan permanent word.

Die Heartbreaker-sanger het Dinsdag aan die radiostasie Power 106 in Los Angeles gesê: “Ná die nuwe album is ek ’n afgetrede man. Ek gaan aftree.”

Hy het toe gesê hy het nog nie finaal besluit nie, en bygevoeg: “Ek wil groei as ’n kunstenaar en gaan ’n blaaskans vat. Ek wil hê my musiek moet groei.”

Die sanger sê hy is glad nie beïndruk met roem nie. “Ek is net hier vir my aanhangers en vir die musiek,” sê hy.

’n Bron na aan Justin hou vol hy het net geskerts en beplan nie om sy sangloopbaan vir altyd te laat vaar nie. “Die outjie het ambisie.”

Justin het ook teruggekap na kritici en ontken dat hy al hoe “arroganter” raak.

“Mense dink ek is arrogant, maar ek is nie. Ek was nog altyd ’n sorgsame en vrygewige mens. Ek is 19, ek gaan foute maak, dis onvermydelik.”