Dis vier jaar sedert Megatron Chicago amper vernietig het en in Transformers: Age of Extinction, die vierde aflewering van die fliekreeks, het die mense nie meer vir Optimus Prime en sy Autobots nodig nie. Om die waarheid te sê, die regering is op hul spoor. Eisj, dis mos nie hoe jy iemand bedank wat jou lewe gered het nie!

Met ’n splinternuwe span akteurs, die dinobots (robotte wat in dinosourusse verander) wat vir die eerste keer in die flieks verskyn en ’n effe anderste voorkoms vir Optimus Prime en Bumblebee (hy lyk ’n bietjie kwaaier as die lieftallige Bumblebee wat ons leer ken het), beloof die fliek om oor meer as net ontploffings, koel karre en sexy meisies te gaan.

WIE’S WIE?  

Mark Walhberg is Cade Yeager

Die 43-jarige akteur is Cade, ’n wewenaar en Tessa Yeager se pa. Hy wil net hê sy dogter moet die ouens uitlos tot sy klaar is met hoërskool en aan ’n goeie universiteit gaan studeer! Mark was dol daaroor om deel te wees van die fliek. “Dit was opwindend, want dit was die eerste keer dat my kinders belanggestel het in ’n fliek wat ek maak,” sê hy.

Nicola Peltz is Tessa Yeager

Die 19-jarige aktrise was in die mislukking The Last Airbender (2010), maar haar rol as die dogter van die motorwerktuigkundige Cade Yeager gaan van haar ’n ster maak. Nicola sê dit was groot pret om die aksietonele te skiet. “In die groot aksietonele, waar jy dit net een keer kan verfilm, neem die adrenalien oor en werp jy alles in die stryd. Dit was groot pret.”

Jack Reynor is Shane Dyson

Die 22-jarige Iers-Amerikaanse akteur speel Tessa se kêrel, die renjaer Shane. Jack het die rol gekry nadat hy nege maande lank werkloos was. “Dit was ’n moeilike tyd, want ek het ’n vyfjarige broer en sewejarige suster. Geldelik was ons in ’n baie moeilike situasie,” sê hy.

Kelsey Grammer is Harold Attinger

Die skurke (die menslike soort) is dié keer Amerikaanse regeringsbeamptes. Kelsey van die sitkom Frasier, speel Harold, ’n hardekwas wat sal sterf vir sy land en oorgehaal is om ontslae te raak van alle Transformers – die goeies en die boses. “Hy het 30 jaar lank in die skadu geleef terwyl hy sy land gedien het. Hy hou daarvan om onopvallend dog uiters doeltreffend te wees,” sê die 59-jarige akteur oor sy karakter.

Mal oor Optimus Prime?

Die tropleier is terug en moeg daarvan dat mense hom en sy Autobots jag. Hulle het die mens immers nog altyd net gehelp om sy planeet te red. Dit lyk of hy regmaak vir oorlog.

Sy stem

Die Kanadese akteur Peter Cullen doen Prime se stem al sedert die oorspronklike strokiesprent in die 1980’s verskyn het. Hy is ook die stem van ’n aantal ander ikoniese karakters, insluitend Eeyore in die Winnie the Pooh-flieks, en Monterey Jack in Chip ’n Dale Rescue Rangers-animasiereeks op TV.

Pretfeite

  • In die provinsie Yunnan in China is ’n 12 m-hoë standbeeld van Optimus Prime.
  • Transformers kan uitmekaargehaal en herbou word solank belangrike dele nie vernietig word nie.
  • Optimus Prime en Megatron het eens op ’n tyd as broers saam regeer oor Cybertron, hul tuisplaneet.
  • Die meeste van die rekenaargrafika vir die Transformers-flieks word behartig deur Industrial Light & Magic, ’n spesiale-effektemaatskappy wat gestig is deur George Lucas (70), die skepper van Star Wars.

Die Decepticons  

Uit dit wat ons tot dusver gesien het, lyk dit of die Decepticon Lockdown – ’n jagter wat nooit sy teiken mis nie – die hoofskurk is in Transformers: Age of Extinction. Hy reis in sy reuse skip, wat dien as ’n tronk, en jag sy teikens. En dan is daar Galvatron, wat Harold Attinger en sy mense gebou het uit die oorblyfsels van die oorspronklike skurk, Megatron. Hy wil die beskermer van die mensdom wees sodra hulle van al die Transformers ontslae geraak het. Klink na ’n ramp wat wag om te gebeur!

-       Jeremy Petersen

Bronne: Optimusprime.fansector.com, roadandtrack.com, blogs.indiewire.com, Wikipedia.org, dailymail.co.uk, timesofindia.indiatimes.com, mstarz.com, imdb.com, empireonline.com