Voor haar het James Roeder op aanklag van inbraak verskyn. Sy medepligtige was sy vrou, Ashley. Die paartjie het by ’n winkel ingebreek en ses plasmaskerm-televisiestelle gesteel. Hulle is op 20 Mei in hegtenis geneem.

Wolf het van meet af aan beslis dat daar geen kontak tussen James en Ashley moet wees nie om onder meer te verhoed dat hulle die saak en klagte teen hulle kan bespreek.

Haar opdrag het ook beteken dat James tot Maandag toe nog nooit sy maand-oue seuntjie gesien het nie. Ashley het wel hul seuntjie na die hof gebring.

“Ek het gesien sy probeer om die baba in die lug te hou toe James saam met sy prokureur geroep word om na vore te kom,” het Wolf gesê.

Sy het nadat sy verskyning afgehandel is, besef James het nog nie sy 30-dag oue seuntjie ontmoet nie. En dat die kans daarop vir ’n taamlike lang tyd in die toekoms ook nie sal gebeur nie.

Wolf het vir Ashley gevra of sy sou wou hê haar man moet die baba ontmoet. Ashley het ja geantwoord.

Die regter het James teruggeroep en hom streng vermaan om in die afwesigheid van sy prokureur niks oor die saak te sê nie.

Haar volgende woorde het behoorlik die wind uit die seile van almal teenwoordig geneem.

“Ek maak ’n tydelike uitsondering hier reg voor my, op rekord, sodat jy hierdie baba kan ontmoet. Dis jou seun,” het die regter aan James gesê.

Ashley het hul seun in sy arms geplaas en hy kon sy seun vir die eerste keer vashou. Die trane het geloop en selfs Wolf kon nie haar emosies in toom hou nie.

Sy het sneesdoekies uitgedeel en Ashley bedank dat sy deel kon wees van daardie oomblik.

Nadat die paartjie hul onderskeie koers ingeslaan het, het die regter aan diegene wat agtergebly het, gesê: “As julle nie trane in jul oë het nie, is julle bloot harteloos.”

Wolf het aan WDRB gesê sy hoop hierdie gebaar sal ’n positiewe impak op James hê. “Ek dink dit was – nie as regter nie, maar net as mens – waarskynlik een van die beste goed wat ek nog ooit gedoen het,” het sy gesê.

Wolf was onlangs ook in die nuus toe sy haar sterk uitgespreek het teenoor die behandeling van ’n vroue-gevangene. Sy het die hofverrigting tot stilstand gebring toe sy uitvind die vrou het geen ander klere of higiëniese produkte vir die 72 uur wat sy in die selle aangehou is, ontvang nie.

Die vrou het glo ’n atletiekbroekie onder ’n lang T-hemp aangehad en dit het gelyk asof sy sonder ’n broek die hof ingebring is.

Bronne: wdrb.com, wcpo.com, heavy.com, washingtonpost.com, news.com.au