[caption id="attachment_167910" align="alignnone" width="600"]Foto: Tumelo Leburu Foto: Tumelo Leburu[/caption]

Adriaan van Vuuren (44), wat hom Woensdag 29 Maart vermoedelik in die sy hotelkamer in die Centurion Lake Hotel vergas het, se vervreemde vrou, Rika (38), het hartstogtelik gehuil terwyl sy vertel het Adriaan was nie net haar man en die pa van hul pragtige vier kinders nie, hy was ook haar beste vriend. Hulle was 17 jaar lank getroud en het mekaar byna 25 jaar lank geken.

Sy het in ’n brief aan hom vertel toe hulle mekaar die eerste keer in die herfs van een Donderdagmiddag ná skool in ’n kafee ontmoet het.

“In die linkerkantste hoek het jy gestaan met jou kop so skuins gekantel en het jy my amper ongemerk dopgehou. Ek was 16, pure tiener, draadjies en al. Hoekom ek daardie dag jou aandag getrek het, sal ek tot vandag nie weet nie, vir my was daardie magiese oomblik van oogkontak genoeg vir my om te weet dat ek saam met hierdie man wil oud word...”

Rika het vertel sy sou Adriaan in die einste kafee nog al sy dae gee, veral as sy rum en raisin-energie stafies gekoop het.

[caption id="attachment_167911" align="alignnone" width="600"]Adriaan van Vuuren (Foto: Tumelo Leburu) Adriaan van Vuuren (Foto: Tumelo Leburu)[/caption]

“Nie dat dít jou afgesit het nie, want die Adriaan wat ek en die kinders ken, sal nie so maklik moed opgegee nie, of dit is wat ek gehoop het... Soms dink ek jy was larger than life. Jy het groot gedroom, geleef, liefgehad... Selfs al wou jou terg het jy dit mening gedoen.

“Onthou jy die blou mayonnaise wat jy een keer in my ma se inkopiewaentjie gegooi het of die chillisous wat jy nog vir jou ma in ’n strooitjie gegee het? Onder daardie perfeksionistiese streep van jou het daar ’n hart van goud gelê...

“Sy het gesê vir ’n beter pa kon sy nie vir hul dogters (11 en 8 jaar) en seuns (3 en 2 jaar) gevra het nie. “Die kids gaan jou baie mis . . . ”

Fotobeelde van Adriaan het ’n ander sy gewys as die vermeende dief wat in die hooggeregshof in Pretoria aangekla is dat hy oor ’n tydperk van nege jaar R500 000 000 by Trudon, ’n filiaal van Telkom gesteel het, terwyl hy die hoofbestuurder van inligtingstegnologie was.

Ook van die gesin se lewe van weelde soos die huis van R25 miljoen wat hy in die Mooikloof Equestrian-landgoed besit het, was daar nie veel te bespeur nie. Eerder beelde van ’n liefdevolle en toegewyde pa by sy kinders se geboortes in die hospitaal, by hul doop, waar hulle op die gras saam speel, roomys eet, op seevakansies te baljaar, verjaardae te vier of hulle te soen.

[caption id="attachment_167912" align="alignnone" width="620"]Adriaan van Vuuren se gesin. (Foto: Tumelo Leburu) Adriaan van Vuuren se gesin. (Foto: Tumelo Leburu)[/caption]

Rika, wat reeds in die hof aangevoer het sy het nie geweet waarmee haar man besig was nie en besig was om van hom te skei, het huilend gelees hoe lief sy vir Adriaan was en hoe hul kinders nou sonder ’n pa sal moet grootword. Sy het gelees die seuns se pa sal nooit sien hoe hulle bulletjierugby speel nie en sy dogters sal nie hul pa daar hê wanneer hulle op hul troudag by die paadjie af stap nie.

“Ek was die kwaai een en jy was hulle hero . . . En Babes as ek aan ons twee dink dan oorspoel die mooi herinneringe al die troebelwater waardeur ons gegaan het . . . ”

Sy het die keer onthou toe hy die hele winkel se blomme gekoop het om vir haar jammer te sê, of hoe hy ontsteld hy altyd was as sy nie genoeg hartjies en soentjies aan die einde van haar WhatsApp-boodskappe gesit het nie.

“Jy het 100% gegee en 100% verwag en al is dit vir my hartverskeurend dat ons storie nie die sprokieseinde gaan hê waarop ek altyd gehoop het nie. Ek weet jy was baie lief vir my en het die grond aanbid waarop ek loop.”

Past. Nevil Norden, wat die diens gelei het gesê niemand sal weet wat presies in Adriaan se kop aangegaan het toe hy sy lewe geneem het nie, en niemand kan sê dít sal nooit met hulle gebeur nie.

Hy het gepreek uit 1 Korintiërs 15:43 wat lees: Daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heiligheid; daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag.

Roubeklaers het ná die tyd na buite beweeg van waar die lykswa vertrek het om Adriaan te laat veras.

Die jongste seuntjie het aan sy ma se rokpante vasgeklou terwyl sy ouer boetie met ’n helder oranje karretjie gespeel het – deurmekaar oor wat aan die gebeur is.

En nou sal hulle ook nooit eendag hul pa kan vra nie.

Ekstra bron: Beeld