Durban – Net ’n paar dae gelede het die brandslagoffer Jean Rose Sosibo van wanhoop gehuil. Nie net was haar lyf seer nie, maar haar hart ook. ’n Belangrike mediese lêer het verdwyn, en daarmee saam haar kans om ’n staatstoelaag te kry.

Maar Dinsdag het Jean Rose trane van blydskap gehuil. Haar verhaal het die hart geroer van ’n Suid-Afrikaanse akademikus wat nou in Brittanje woon. Haar lot het hom so geraak dat hy vir haar ’n geskenk in die vorm van kontant gestuur het “om na hartelus te bestee”.

Die 36-jarige akademikus, wat anoniem wil bly en nie bekendgemaak het hoeveel geld hy aan die vrou geskenk het nie, sê hy het al haar pyn ervaar toe hy van haar beproewing lees.

“My hart het gebreek, want daar is sekerlik iemand wat al die rompslomp kan omseil en die vrou help.

“Ek was seergemaak oor die onregverdigheid van dit alles en het jammer gevoel dat sy dit alles moet deurmaak. Dis gek,” het hy gesê.

Jean Rose het brandwonde aan haar gesig, hande en voete opgedoen toe die band van 'n taxi waarin sy van Ixopo na Springville gereis het, op 4 Julie 2014 gebars het. Die taxi het aan die brand geslaan en vyf mense het omgekom.

Dankbaar

Jean Rose was oorstelp van emosie toe sy die nuus hoor. Sy het gesê: “Verlede jaar het ek Kersfees by die huis deurgebring en my wonde verpleeg. Ons het niks spesiaals gedoen nie, want ek verdien net R600.

“Dis asof hy weet ek is ’n weduwee en daar is niks wat ek met R600 kan doen nie. Ek is baie dankbaar. Selfs al het hy vir my net R100 gegee, sou dit nie saak gemaak het nie. Ek is net dankbaar oor die man se welwillendheid.”

Bron: News24 Wire